Hulle is een lid kwyt, maar dít maak Flip a Coin niks minder indrukwekkend nie.

Mario Botha, een van die a cappella-groep se oorspronklike sesstuks, het onlangs uit die groep getree om vir ’n jaar gemeenskapsdiens te doen om sy aptekerswesegraad te voltooi.

Die vyf het pas hul nuwe album, Rissikstraat 95, uitgereik en dis oorrompelend mooi. Die album is

genoem na die huis wat hulle in 2008 in Potchefstroom gedeel het toe hulle nog studente was.

“Dit was nogal erg toe Mario uit die groep moes bedank; dis steeds erg,” sê Johan C. Venter, hul liedjieskrywer.“Maar ons kom reg en ons kry dieselfde reaksie van ons aanhangers. Ons het besluit om niemand in Mario se plek te kry nie, want die groep het reeds sy eie dinamiek ontwikkel. Ons speel elkeen ’n baie spesifieke rol.”

Johan skryf die meeste van hul liedjies en Niekie van der Walt en Michael de Villiers doen die

verwerkings. Stefan Pretorius is die een met die diep basstem, en Katlego Maboe se  verhoogpersoonlikheid steel maklik die aandag.

Op die nuwe album is vyf liedjies uit Johan se pen, Jy, Vanaand, Engel vir My, Kry ’n Lewe en ’n herverwerking van die treffer Jasmyn, en ook die liedjie Tu Tu Du, wat Stefan en Katlego geskryf het.

Op die CD is ook bekende leenliedjies soos What a Wonderful World, I’ve Got a Feeling en Weeping.

“Daar’s iets vir almal op die album. Ons wil graag ouer én jonger mense bereik. Ons wil hê ons album

moet mense laat goed voel, en ek dink ons kry dit nogal reg,” sê Johan.

“Ons vloek nie en ons trap op niemand se tone nie. Dis ’n vertoning vir die hele gesin.”

Die groep bring ook vanjaar ’n musiekteaterstuk, A Cappella for Dummies, op die planke.

“A Cappella is deesdae baie gewild, en die stuk gaan na die evolusie van hierdie musiek kyk.”

Hulle gaan ook vanjaar vir die eerste keer by Skouspel optree.

“Ek wou sommer begin huil toe ek hoor ons is na Skouspel genooi, dis ’n kompliment en ’n eer!” sê Johan opgewonde.

Op die internet

Facebook-groep

http://www.flipacoin.co.za