Die laaste liedjie wat die sangeres Irene van Wyk opgeneem het, was nie vir uitreiking bedoel nie. Die opname was bloot om vir die internasionale ster Bonnie Tyler te wys waar sy moet inval met ’n duet wat sy ingestem het om saam met Dozi op te neem. Maar toe hy ná Irene se skielike dood in ’n motorongeluk na haar opname van It’s a Heartache luister, was hy so aangedaan dat hy besluit het om dit liewer as ’n duet saam met haar uit te reik.

Teken in op Huisgenoot

“Ek moes my deel van die duet die dag ná haar dood opneem en ek was baie emosioneel,” vertel die sanger met die rasperstem.

Dié aangrypende duet is een van 14 nuwe nommers op sy nuwe Afrikaanse CD, Voel So Reg, en dié album is Dozi op sy beste. Daarop is heerlike country-musiek en liedjies soos Amy Is Terug in Kaapstad, Swart Sambuca en As die Son Gaan Sak – ’n duet saam met sy boesemvriend Ray Dylan.

Heelparty van die liedjies is op bekende melodieë gegrond, maar Dozi het oorspronklike Afrikaanse lirieke daarvoor geskryf. Die liedjie Sonder Jou wat Anton Langenegger vir Huisgenoot se tweede Liedjieskryfkompetisie ingeskryf het, is ook op die album.

Tussen al die lekker kuiermusiek is ook ’n paar ernstige nommers. Die liedjie Ossewa gaan oor die Groot Trek en as Bok van Blerk se De la Rey jou ongemaklik laat voel, sal dié een jou dalk ook dwars in die krop steek. Maar Dozi sê die liedjie moenie verkeerd vertolk word nie. “Dit kon net sowel oor Dingaan gegaan het.”

Sy liedjie Vryheid vir My Mense gaan oor hoe misdaad mense raak, maar dra tog ’n boodskap van versoening uit. “Ek is nie ’n ou vir politiek nie, maar ek wil tog sing oor die dinge wat mense raak,” sê hy.

“Een van my gunstelinge is die liedjie As Jy deur Hel Gaan. Verlede jaar was ’n ekonomiese riller, en baie mense het swaar tye beleef. Ek wil mense moed gee en hulle herinner: Daar is altyd iemand met wie dit slegter gaan.”

VERJAARDAG: 23 Maart

WEBTUISTE: www.dozi.co.za

BESPREKINGS: Kontak Louis by 012-991-4102 of louis@musicprofile.co.za

PLATEMAATSKAPPY: Sony Music

VERSPREIDING: Sony Music