Seder die uitreiking in 2003 van Abel Kraamsaal se debuutalbum, Woorde op ’n Wynboks, het hy elke 18 maande ’n nuwe CD bekendgestel. Maar ná drie CD’s het sy stem skielik stil geword.

Dié stilte is nou, ná drie jaar, verby, en Abel is met mening terug met ’n nuwe album, Die Afstand tussen Tyd. Die uiteenlopende liedjies daarop, met stewige lirieke en ’n toeganklike, progressiewe klank, sal sy aanhangers gaande hê.

Maar waarom dan die stilte? ‘‘Ons het in 2006 uit die Kaap na ’n natuurreservaat buite Port Elizabeth getrek. Dit was asof ek vergeet het om vir die muse te sê waarheen ek getrek het. Ek het nie my sielkundige deadline van 18 maande vir ’n nuwe album gehaal nie en toe benoud geraak,’’ vertel hy.

Maar die muse het Abel se nuwe adres gelukkig eindelik opgespoor. ‘‘Ek het die musiek vir my nuwe album drie keer oorgeskryf. Anton Goosen het eenmaal vir my gesê dis soms goed om liedjies weg te gooi, en ek het dit gedoen en elke keer van voor af begin.’’

Die trek na ’n nuwe landskap was aanvanklik nogal traumaties, erken hy. ‘‘Ek het deur ’n diep, persoonlike rivier gegaan. Maar ek is nou meer volwasse; ek voel vry. Daarom is die liedjies op my nuwe album lekker toeganklik – ek’s klaar gewroeg!’’

G’n wonder die album bied heerlike kuiermusiek waarop jy tot laatnag wil partytjie hou nie . . .

Abel het begin musiek maak nadat hy Koos Kombuis in 1994 ontmoet en daarna vir hom ’n paar liedjies gestuur het.

‘‘Hy’t aanvanklik gesê my musiek is ver van die spoor af. Nadat ek twee jaar lank in Brittanje gewerk het, het ek ná my terugkeer weer vir hom liedjies gestuur.

Toe sê hy ek is op die regte spoor en nooi my om sy optredes te open.’’

Tussendeur het Abel die sanger Gian Groen ontmoet en dié het hom sy eerste album help opneem. Deesdae het hy ’n ateljee by sy huis waar hy self sy opnames maak. En al woon sy groeplede almal in die Kaap, is hulle weer volstoom aan die gang met optredes noudat die nuwe album op die rak is.

Vind uit in die 11 Maart-uitgawe van Huisgenoot hoe jy Abel se jongste CD kan wen.