JAKKIE LOUW weet van liedjies skryf. Dis dié dat hy nie net pas ’n nuwe album met grotendeels sy eie liedjies daarop uitgereik het nie, maar ook ’n boek getitel Liedjieskrywer 101.

‘‘Daarin leer ek mense liedjies skryf,’’ vertel die sanger. ‘‘Ek gee hulle praktiese wenke, en leer hulle byvoorbeeld hoe om met ritme en rym te werk.’’ Hy verkoop die boeke teen R50 elk by sy konserte.

Sy vorige albums, Drie Pikkewyne en Marietjie Se Hoender, is onderskeidelik in 2006 en 2008 uitgereik. Hy het 15 van die 18 liedjies op sy nuwe album, Gemaak in SA, self geskryf, maar daar’s nog talle nuwes in sy laai.

‘‘Ek het die afgelope twee jaar 117 liedjies geskryf, en 80 daarvan was ballades. Vyf daarvan is op die nuwe CD, en my pelle sê dis my beste werk,’’ vertel hy trots. Benewens die ballades is daar ook ’n paar heerlike rock-nommers.

Om liefhebbers van sy grappige nommers soos Drie Pikkewyne tevrede te stel, het hy Piet Pompies se liedjie Bamboesbos ingesluit.

Tog hou hy veral van ernstiger liedjies soos Gebed van die Vreeslose wat hy vir Mathys Roets geskryf het, en Een Miljoen Woorde, ’n liedjie wat hy geskryf het nadat kanker by ’n goeie vriend se meisie gediagnoseer is. Jakkie doen deesdae liefdadigheidswerk vir die Kankervereniging van Suid-Afrika en het besluit om sy hare vir die aangrypende musiekvideo vir Een Miljoen Woorde af te skeer.

Hy is ook betrokke by ’n fondinsamelingsprojek vir Lucas Maree se mediese koste nadat kanker by hom gediagnoseer is. ‘‘Ek het ’n liedjie genaamd Lucas Maree geskryf en dit sal binnekort op ’n nuwe album verskyn waarop verskeie kunstenaars sy liedjies sing,’’ vertel hy.

Hy is ook die eerste kunstenaar nog wat ’n keurspel van Lucas se musiek met nommers soos Miljoen, Droomvrou en Victoriabaai opgeneem het. Dis op sy jongste CD.

Jakkie tree nog gereeld saam met Kevin Leo op as die gewilde duo Jakkals en Leo en die twee se eerste gesamentlike DVD word binnekort uitgereik.

Hy sal dit nie eens oorweeg om ter wille van internasionale roem te emigreer nie. Soos die titelsnit van sy nuwe CD sê: Hy’s ‘‘gemaak in SA’’!

VERJAARDAG: 20 Mei

WEBTUISTE: www.jakkielouw.com

BESPREKINGS: Bel Jani by 082-882-7622

PLATEMAATSKAPPY: Select Musiek

VERSPREIDING: SMD

WEN ’N CD

Vyf lesers kan jakkie louw se nuwe CD wen. SMS die antwoord op die vraag, jou naam en adres voor 2 Desember om 17:00 na 34922. Elke SMS kos R1,50. Vraag: Saam met watter sanger tree Jakkie Louw as die duo Jakkals en Leo op? Die borg is verantwoordelik vir die versending van die prys binne ’n redelike tyd.