Arno Jordaan is op 26 nog bloedjonk, maar allermins ’n groentjie in die musiekbedryf. Die verkope van sy vorige vier albums trek reeds ver anderkant 100 000 eksemplare en sy vyfde pop-album, Stukkie van Jou Hart, is onlangs uitgereik.

Twee van die land se voorste platemaatskappye het vir hom kontrakte aangebied noudat sy kontrak met Muzico verstryk het, sê Arno. En dis geen wonder hy word oral met ope arms verwelkom nie – die blondekop het immers in die musiekbedryf grootgeword.

Sy pa is die bekende musiekpromotor Paul Jordaan, en Arno het die meeste van die land se voorste kunstenaars al as kind leer ken, soos Arnold Coleske van Coleske Artists, wat hom met die opnames vir sy nuwe album gehelp het. “Toe ek ’n seuntjie van so vyf of ses was, het my pa die Coleske-broers gehelp om hul eerste platekontrak te beding,” vertel Arno.

Bekende liedjieskrywers soos Johan Vorster van Eden-faam en Rudi Claase van Ons Lieflinge het liedjies vir Arno se nuwe album geskryf. “Ek werk gewoonlik net drie of vier maande lank aan ’n nuwe labum, maar ek het ’n jaar lank aan my nuwe CD gewerk omdat ek die volmaakte liedjies daarvoor wou kies.”

En die wag was die moeite werd, want die CD spog met besliste treffers, soos die heerlike titelsnit en die liedjies Klein Dingetjies en Magic Baby. Sy eie  gunsteling is Weg is die Winter “omdat dit ’n lekker storie vertel”.

“Kinders van vier luister na my musiek, maar ek sorg ook dat my liedjies tot ouer mense sal spreek. Dis lekker-luister-musiek vir mense wat van dans hou,” sê Arno.

Sy pa waarsku gereeld hy moenie grootkop kry nie. “Ek weet my voete moet op die grond bly, en ek moet dankbaar wees vir alles wat ek bereik. Ek is ongeduldig en wil allerhande groot dinge bereik, maar ’n lang pad lê nog voor.”

Hy droom daarvan om eendag met sy eie platemaatskappy te begin en sê hy werk steeds aan die beplanning van ’n avontuurreeks vir TV waarvan hy die aanbieder wil wees.

“En volgende jaar wil ek ’n DVD van een van my optredes opneem,” voeg hy by.

Want al is die sanger nog jonk, droom hy groot!

PLATEMAATSKAPPY: Muzico

VERSPREIDING: Iris

VERJAARSDAG: 19 Februarie

WEN ’N CD!

Vyf lesers kan Arno Jordaan se CD wen. Wat is Arno se pa se naam? SMS die antwoord, jou naam, van en adres voor 23 September na 34922. Elke SMS kos R2. Die borg is verantwoordelik vir die versending van die prys binne ’n redelike tyd.