WANNEER sy albums die dag almal presies dieselfde begin klink, sal hy ophou musiek maak, sê Adam Tas.

Maar die donkerkop-rocker se aanhangers hoef nie bekommerd te wees nie – op sy splinternuwe album, Storm van Liefde, slaag hy sowaar daarin om rock, pop, ballades en selfs ’n skeutjie country met sukses te kombineer.

Van die lieflike liedjies is die titelsnit, Te Beautiful vir My, Gaan Sê vir die Angels, Is Dit Hoe die Hemel Lyk en Kersfees in Afrika.

As ’n kannetjie het Adam (29), wat in Pretoria gebore is, daarvan gedroom om vir die Blou Bulle op die rugbyveld uit te draf. Op 17 was hy in ’n ernstige fietsongeluk.

“Ek was lank bedlêend en my ma het vir my ’n kitaar gekoop om my besig te hou. Ek het myself leer speel en eintlik amper per ongeluk begin sing.”

Daarna het hy by Pretoria se kuierplekke begin optree. Hy het nie daarvan gehou om ander mense se liedjies te sing nie, en sy eie begin skryf.

Tussen optredes deur het hy ’n diploma in die joernalistiek aan Unisa verwerf en ’n ses maande lange kursus in wildbewaring voltooi.

Sy debuutalbum, Memories in Menthol, is in 2004 uitgereik en die albums Springbok Radio en Ben Bicycle het onderskeidelik in 2006 en 2008 gevolg.

"As ek toer, kom ek altyd op interessante karakters of dorpies met ’n inspirerende storie af en skryf dan later liedjies hieroor."

Hy speel sy nuwe liedjies gewoonlik vir vriende voor hy besluit watter hy gaan opneem. “Dit help nie jy hou van jou eie liedjies, maar ander mense hou nie daarvan nie,” verduidelik hy.

Met sy nuwe album wou Adam ’n bietjie eksperimenteer. “Ek hou nie van die herhalende klanke wat deesdae in Afrikaanse musiek gebruik word nie.

Daarom het hy instrumente soos die banjo en trekklavier ingespan.

Hy trou in Maart met Caren Visagie, maar intussen werk hy klaar aan liedjies vir ’n volgende album.

"Dis belangrik om heeltyd te ontwikkel en te groei," sê die man met die diep stem en die liedjies vol slim, sielvolle lirieke.