Edwin Theron (13), wenner van die kykNET-kosmaakreeks Kokkedoortjie, sê sedert hy vroeër vanjaar koning gekraai het in dié kompetisiereeks maak hy sommer baie meer kos en het hy nog meer selfvertroue in die kombuis.

A post shared by Edwin Theron (@theronedwin) on

Daarom dink hy enige kind wat lief is vir bak en brou, moet dadelik inskryf vir die bakkompetisie Koekedoortjie.

“Jy kry een keer so 'n kans. Skryf in, doen jou bes en kyk wat gebeur.

“Ek het nooit in ’n miljoen jaar gedink ek gaan wen nie,” het Edwin vroeër die week aan Huisgenoot vertel kort nadat hy uit die hospitaal ontslaan is.

Sy blindederm is verwyder, maar hy sal na verwagting Maandag weer terug by die skool wees.

Volgens Edwin was sy maats by die skool baie in hul skik nadat hy as die beste kinderkok aangewys is en moes hy nou al ’n paar keer vir hulle kos aandra.

Moenie dit wat jy maak vervelig maak nie

Hy meen dit is wel belangrik om voor jy vir so ’n kompetisie inskryf, seker te maak dat jy ’n paar basiese baktegnieke onder die knie het.

“Ek dink nie jy moet inskryf as jy nog nooit in jou lewe ’n koek gebak het nie. So maak seker jy ken darem die basiese koeke en weet hoe om ’n koek te versier,” gee Edwin nog raad.

Volgens dié inwoner van Worcester in die Wes-Kaap het hy nie net nuwe maats gemaak nie, hy het ook baie geleer tydens sy deelname aan Kokkedoortjie. Hy sê hy wens eintlik hy het lankal die goed geweet wat hy op die program geleer het. Edwin eksperimenteer ook nou baie met nuwe idees as hy die kombuis invaar.

“Moenie dit wat jy maak vervelig maak nie, maak dit spesiaal, gee dit 'n bietjie persoonlikheid.”

En wanneer Koekedoortjie uitgesaai word, sê Edwin, gaan hy beslis vasgenael voor die televisie sit om te sien wat die deelnemers optower.

Die inskrywings vir Koekedoortjie sluit op 25 Augustus. Besoek kykNET se webblad om in te skryf.