Volgende week sal dié twee seuns sake in die laaste episode van Kokkedoortjie uitspook en meeding om as die wenner van dié werklikheidsreeks aangewys te word.

Edwin Theron
Christi Myburgh

Tydens Woensdagaand se episode van die kosmaakreeks op kykNET moes Christi Myburgh (13), Edwin Theron (12) en Christian Cloete (12) elkeen ’n asemrowende koek bak.

Christi het die uitdaging gewen en deurgedring tot die laaste ronde. Christian moes huis toe gaan.

Christi het Woensdagaand die wenkoek gebak.
Edwin se fabelagtige koek.
Christian se helderkleurige handewerk.

“Christi is ontsettend liefdevol en ’n mens kan sien hy het ’n baie hegte band met sy ma. Dit is hoekom hy die madeliefie op die koek gesit het; hy het geweet dit is iets waarvan sy sal hou,” sê Mari-Louis Guy, een van die beoordelaars.

Volgens haar het Christi nie net baie goeie vaardighede in die kombuis nie; hy is ook op die hoogte van die nuutste neigings.

Vir die laaste episode van die seisoen sal Edwin en Christi elkeen ’n driegangmaal moet berei.

Wees kreatief met koekversiering

Volgens Mari-Louis is eenvoudige koeke deesdae die in-ding; driedimensionele koeke vir kinderpartytjies is uit die mode.

“Hoe eenvoudiger die koek, hoe mooier is dit eintlik.”

Sy sê jy hoef ook nie meer te wroeg om met fondant driedimensionele figure te maak nie.

“ ’n Mens kry deesdae die mooiste lekkers om ’n koek mee te versier. Druk dit net daarin.”

Mari-Louis sê enigiets van lekkers wat soos klein gebakte eiers lyk tot rye en rye kougom of springmielies en vingerkoekies kan ’n koek opkikker.

“Jy kan ook koekiekrummels deur ’n sif druk. Dan het jy ’n baie mooi fluweelafwerking,” sê sy.

Volgens Mari-Louis is ’n maklike meng-en-bak-resep ideaal as jy jou kinders wil leer koek bak.

“Jy gooi dan sommer alles bymekaar en meng dit met ’n houtlepel.”

Probeer gerus hierdie maklike sponskoek bak.

Kokkedoortjie is Woensdag om 20:00 op kykNET.