Volgens Paul Venter, die reeks se medevervaardiger, het M-Net die lisensie van die trefferreeks gegee aan ’n Hollandse maatskappy, Absolute Independent, wat nou die Kokkedoor-formaat in die buiteland gaan bemark.

“Ons het ’n stylbybel geskryf en die formaat neergepen sodat die reeks op groot TV-konferensies bemark kan word,” sê Paul.

“Die naam van die reeks in die buiteland is The Golden Dish.”

Volgens hom het 11 lande, onder meer Amerika, Spanje, Portugal, Holland en België, reeds belangstelling getoon, en sal Absolute Independent die Suid-Afrikaanse vlag daar hoog laat wapper in die hoop dat dié lande die reeks sal koop en hul eie weergawe daarvan sal vervaardig.

“The Golden Dish kan oorsee beslis meeding met ’n reeks soos MasterChef,” sê Paul. “Ander lande het ook ’n ryk kostradisie, dink maar aan Italië en Griekeland; so die formaat kan ook daar vlamvat.

“Uit ’n produksie-oogpunt is dit vir ons wonderlik dat die reeks na die buiteland uitbrei. Hoe sterker die Kokkedoor-handelsmerk word, hoe meer seisoene kan ons op eie bodem vervaardig.”

Die tweede seisoen is reeds op Prins Albert verfilm en word van April 2014 op kykNET uitgesaai.

– Christiaan Boonzaier.