Sy vertel meer.

Hoe voel jy nadat jy gisteraand uitgestem is?

As ek baie eerlik mag wees: baie geskok! Oom Chris (Greeff, in episode twee en drie haar spanmaat) het my erg benadeel met sy agteraf geskinder en afkrakery – en dit was net om homself te bevoordeel. Nadat ek hom gekies het, het ek gesê ons moet mekaar ruimte gee en met mekaar gesels as daar klein irritasies is; hy het my verseker hy sal oop kaarte speel. Ek het gedink daar was glad nie probleme nie, hy het my vooraf vreeslik gekomplimenteer en my gereeld “my lam” genoem. Hy het my in die rug gesteek, en ek dink dit was om sy eie foute te begaan, soos sy brioche wat misluk en gebreek het. Ek het hom toe vinnig gehelp en ’n reënboogbroodjie met kafeebrood aanmekaargeslaan. En dan sê hy ook nog ek maak die kombuis deurmekaar nadat sy brioche die hele wêreld vol gelê het. Sy jafels het ook by die skou aangebrand, en ek het my deel dubbel en dwars gedoen om hom te help, maar hy het weereens sy misnoeë vir homself gehou en nie met my gedeel nie.

Wat dink jy het foutgeloop met jou en Josia se potjie?

Ek het Josia die pot laat maak omdat hy gesê het hy hou daarvan en is goed daarmee. Ek was te bang om weer dominant te wees en al die spyskaarte uit te werk, soos met Oom Chris. Ek sou die pot anders maak: ek sou bees gebruik, en eers rooiwyn, mielies, salie en kruie in botter braai. Dan sou ek dit saam met kerrie of warm speserye in lae in die pot gooi om die smake te integreer, en sampioene, rooipeper en groenboontjies bygooi – nie skaap en witwyn nie. Ek sou baie meer kleure en geure gebruik, en fokus op hoe die Vrystaters potjie maak. Ek het nie my mening oor die pot gegee nie, want ek was toe al so onregverdig deur Oom Chris afgekraak dat ek net akkoord gegaan het met Josia se pot. Eintlik wou ek toe al huis toe gaan . . .

Dink jy ’n ander span het verdien om voor jou en Josia te waai?

Definitief!

Ek dink ook Oom Chris moes gaan omdat hy so ’n afkraker en agteraf mens is. Hy was nie kreatief nie en sy estetiese vermoëns was power. Ek het gesien hoe onkreatief hy werklik was, en hul (sy en Arthur se) pot het baie vaal en eenvoudig gelyk; hulle kon ook maar voor ons gegaan het. Josia kon baie meer bydra tot die kleurrykheid en humor in Kokkedoor as baie van dié ander karakters.

Wat sou jy anders doen as jy kon?

’n Ander spanmaat kies. Ek sou my ook minder steur aan spanmaats wat agteraf en afbrekend is, en besef dat mense wat ander afkraak en afbreek dit doen omdat hulle self onbekwaam of pateties voel.

Dink jy jy sou verder in die kompetisie kon kom as jy saam met Chris in ’n span gebly het?

Nooit! Ek moes hom nooit gekies het nie. Gelukkig het baie mense gesê dat hy ’n bloutjie met baie geloop het en dat niemand tyd vir sy swartgalligheid gehad het nie. Ek dink ook nie die publiek sal hom volg of deur hom geïnspireer wees nie.

Chris het in die program ’n hele paar uitlatings oor jou gemaak. Hoe voel dit as jy dit op TV kyk en hoor?

Baie hartseer. Alles was vals en ’n poging om sy eie foute en tekortkominge te verbloem. Hy is ’n baie valse mens, en dit maak my ongelooflik hartseer dat daar sulke vals, swartgallige mense bestaan wat deur hul negatiwiteit, gebrek aan ondernemingsgees en oneerlikheid die program afbreek. Hulle wil eintlik net hul eie flaters toesmeer deur ander deelnemers sleg te laat lyk. Dit sê ook iets van hoe mense raak wanneer hulle met ander meeding. Ek het al die geregte uitgedink en hy (Oom Chris) was mal daaroor, maar hy het dit weer in my gesig teruggooi omdat hy nie goed gevoel het oor sy eie inisiatief en kookvernuf nie.

Saam met wie sou jy nog graag wou kook?

Orscilla, Lindé en JF. Hulle was kreatief, fyn en goeie kokke; hulle is meer opbouende en slimmer mense.

Wat het jy uit die hele ondervinding oor jouself geleer?

Ek moet my minder steur aan afbrekende, valse mense en meer glo in myself; ek moes nie so naïef gewees het deur te dink Oom Chris is aan my kant nie.

Watter geregte sou jy nog graag in die reeks wou kook waarby jy nou nooit sal uitkom nie?

Ek is nie veel van ’n bakker nie; ek so dus graag werklike kos wou aanpak, soos afval, murgbene en Klein Karoo-tapaskombinasies, soos volstruis met ’n bosbessie-jus en interessante kinkelkombinasies met onder meer kruie en aftreksels.

Wat is jou planne vorentoe?

Ek wil graag my leefstyl-kookboek, Proe die Klein Karoo, klaarskryf; dit word later vanjaar deur Struik gepubliseer. Ek wil graag ook my Deli Alfresco uitbou en vir almal wys dat ek nie net uit potjies kos maak nie, soos Oom Chris beweer.

Hoe kan van jou aanhangers met jou kontak behou?

Sommer op Facebook by Beate Joubert, of maak sommer ’n draai by my Deli Alfresco, buite Barrydale.

– Christiaan Boonzaier.