Dit was omtrent ’n emosionele vaarwel toe Arthur Wildskut saam met sy spanmaat, Alet van der Westhuizen, in gisteraand se episode van Kokkedoor die trekpas kry.

Maar hoe voel hy oor die uitdaging wat sy spanmaat regeer het – en wat Alet alles te sê gehad het? Hy stel sy saak.

Hoe voel jy ná gisteraand se emosionele episode?

(Lag.) Dit was eintlik lekker om huis toe te gaan; dit was ons tyd. Ek het gedink ons het ’n kans gehad om te herstel – ek was positief – maar toe kon ons net nie.

Jou afskeidsboodskap het die trane laat vloei. Het jy besef julle gaan huis toe en dit toe voorberei?

Ek het glad nie geweet ons gaan uitgeskakel word nie. Dié spesifieke uitdaging met vrugte was net ’n nostalgiese reis vir my – en baie emosioneel. Op Willowmore, waar ek vandaan kom, vier vrugte hoogty. In my kleintyd het die grootmense altyd vrugteresepte onder mekaar uitgeruil. So die vrugte-uitdaging het na aan my hart gelê. Met die trane het ek net weer besef ek en Alet kon soveel meer doen.

Wat het jy te sê oor Alet se bitsige kommentaar in die episode?

Ek het vir haar gesê as sy vertroue in haar idees het, moet ons dit deurvoer. Sy het dit op ’n manier op my afgedwing. Ek het teruggestaan, maar wel my kant van die saak gestel en verduidelik watter rigting ons moet inslaan. Ek het vir haar gesê ons idees is nie baie Suid-Afrikaans nie en daar is geen kinkel nie. Maar sy is... ’n persoon wat haar eie idees najaag en het ’n baie sterk persoonlikheid. Sy was die kinkelkok en het ek baie respek daarvoor gehad, maar ons kos het niks vir die episode, vir vrugte, of vir onthoukos gedoen nie. Dit het net nie vrugte gewerp nie. (Lag.)

Is jy spyt jy het nie jou man gestaan teen Alet nie?

Nee, glad nie. ’n Konfrontasie sou ons momentum heeltemal uitgooi. Ek het maar saam gespeel. Natuurlik ken sy nie my agtergrond nie, my liefde vir vrugte, ensovoorts. Op die ou end moes ek sterker oorkom, maar ek het nie. Ek is nie grootgemaak om so te konfronteer nie, maar ek het daaruit geleer.

Hoe het haar kommentaar jou laat voel?

Ek is in ’n mate oukei. Alet is ’n goeie sjef, maar wat ons voorgesit het en wat ons beplan het, was nie vir die episode en die uitdaging die regte besluit nie; ons kon baie beter doen. Toe ons inskryf, het ons geweet ons moet oop vir kritiek wees – en ek was.

Wat is die grootste les wat jy in Kokkedoor oor jouself geleer het?

Daar is so baie! Die deelnemers moenie eintlik so gefokus op die prys wees nie; die vriendskappe wat jy bou, is belangriker. Die program was ’n drukpot van emosies en gevoelens, ja, maar ek moes die kosreis meer geniet het. Jy verloor jouself as jy heeltyd op die prys fokus. Ek het met baie uit die Kokkedoor-stoor gestap: vriendskap, herinneringe en nuwe kooktegnieke. Dit was ’n groot eer om my eie kennis te deel en by te dra tot kos se vooruitgang in Suid-Afrika.

Watter deelnemer wat nog in die reeks is, inspireer jou die meeste? Hoekom?

Definitief Chris. Hy vertel altyd ’n storie of emosie wanneer hy met kos werk – en dit fassineer my verskriklik. Dis waarskynlik omdat hy in sulke interessante instellings gewerk het. Dit lê my na aan die hart dat elke bestanddeel waarmee hy gewerk het, hom aan iets herinner. Dit het my aan my eie spesiale oomblikke met kos laat dink en met wie ek die kos geniet het. Hy is ongelooflik en dit was ’n groot eer om saam met hom te kook.

Wat is jou planne vorentoe?

Ek en my mede-Kokkedoor Jo het ons eie spyseniermaatskappy geloods, Karoo Kambro. Jo is my kosbroer. Ek konsulteer ook nog steeds op my tuisdorp en wil ook in die toekoms nou betrokke raak by plaaslike skole, waar ek kinders se belangstelling in kos wil prikkel. Jy moet baie dissipline hê om ’n resep te volg, en ek hoop die kinders leer so dissipline. Dalk kan ek later ook ’n jaarkursus vir interne studente op die dorp stig wat in plaaslike gastehuise wil kook. Dis mos waaroor Kokkedoor gaan: kennis oordra. Verder wil ek en Jo net die land platreis en lekker dans!

Kan jy dans?

(Lag.) Jo leer my nog riel . . .

Hoe kan aanhangers kontak met jou behou?

Op Facebook by Arthur John Wildskut; soek ook gerus vir Karoo Kambro daar. Stuur ook vir my ’n twiet by @awildskut.

– Christiaan Boonzaier