Aletta Coetzee (30) kon haar babadogter net twee keer vashou: Die eerste keer ná haar geboorte en die tweede keer toe Melissa in haar arms sterf. “Ek was in sak in as. Ná haar dood het dinge net haywire gegaan. Ek het niks meer passie gehad nie,” vertel Aletta waar sy in haar huis op Worcester sit.

Toe gebeur daar iets wat haar haar lewe teruggegee het. Sy het ’n advertensie gesien vir inskrywings vir Kokkedoor, ’n kookprogram op kykNET. “Dit was asof die televisie helder geraak het. Ek het geweet ek moet inskryf, maar ek het nooit gedink ek sou dit haal nie.”

Maar dié keer was die geluk aan haar kant en een middag het sy die oproep gekry wat haar lus vir die lewe herstel het. En nou vertel sy met ’n nuwe glinster in haar oë hoe kos maak haar weer heel gemaak het . . .

Dokters het vir Aletta, ’n boekhouer, en haar man, Leon (30), gesê hulle sal nie nog ’n kind kan hê nie. Hul eersteling, Lize-Marie (2), was reeds ’n wonderwerk, het hulle haar vertel, maar net ná Lize-Marie se eerste verjaardag het sy gehoor sy is weer swanger.

“Melissa wat uit en uit nog ’n wonderwerk. Ek was verskriklik bly, want ek wou nog altyd baie kinders gehad het. As ons kon, sou ek en Leon 10 kinders gehad het.”

Maar op 26 weke het sy reeds kraamkrampe begin kry. Sy het die dokter gaan spreek, maar Melissa was gesond en kort voor lank het die krampe weggegaan.

Op 30 weke, op 22 Januarie verlede jaar, is sy in die hospitaal opgeneem, want sy het begin kraam. “Ek was drie dae lank in kraam met Melissatjie. My liggaam kon dit nie meer hanteer nie.”

Op Woensdag 25 Januarie het die ginekoloog gesê sy moet ’n keisersnit kry. “Dit was een van my grootste vrese. Melissa het toe net 1,57 kg geweeg. Ek het ook nie pyn gevoel nie, want ek het genoeg inspuitings gehad om ’n leeftyd te hou.”

Haar dogter is gebore en sy kon haar vashou. “Daai oomblik dat jy jou kind vashou, verander jou hele lewe. ’n Stukkie van jou word hergebore.”

Hulle het haar pasgebore kind in ’n broeikas saam met die ander vroeggebore babas gesit. “Die suster en die ginekoloog het heelnag oor my kind gewaak. Leon was ook by haar. Sy was heel fine en ek was nog besig om melkies uit te pomp toe Leon inkom om vir my middagete te bring.”

Die dokter het die hospitaalkamer binnegekom en Leon eenkant toe geroep. “Hy het inmekaargesak, met sy kop in sy hande. Ek kon nie regtig loop nie, maar het opgestaan en na hom gegaan. Ek sal dit nooit vergeet nie.”

Hul dogter se hart het ingegee. Die dokters het vermoed haar longe het dalk probleme gegee, maar een hartklep het nooit ontwikkel nie; daarom was daar geen bloedtoevoer na die res van haar liggaam nie.

“Hulle het gesê daar is niks wat hulle vir haar kan doen nie en dat ons moet besluit of ons die masjiene moet afskakel. Tien minute later is sy in my arms oorlede. Dit was glad nie lekker nie.”

Aletta moes nog vier dae in die hospitaal bly en sy was in skok. “Dit was ’n hele traumatiese storie en ek moes uit die hospitaal stap met niks.”

Om te probeer vergeet het sy haarself in haar werk begrawe. Haar passie vir kos maak was weg. “Ek het altyd omtrent elke dag koekies of beskuit gebak, maar ná Melissa se dood was my liefde vir kos maak weg. My geloof het ook baie swaargekry. My man het gesê ek huil nie eens meer nie. My oë was net droog. Daar was ’n groot gat in my hart wat moes toegroei.”

Toe sien sy die televisieadvertensie wat alles soos handomkeer vir haar sou verander. Sy het vir Kokkedoor ingeskryf en begin hoop en bid. Sy het eers niks gehoor nie en toe die vervaardigers haar eindelik met die goeie nuus wou bel, kon hulle haar nie in die hande kry nie.

Haar foon was nie “pap” nie, verduidelik sy gou. Dit was papsopnat. Sy was een oggend by Liza-Marie se swemklas toe dié amper verdrink en met Aletta se poging om haar kind te red, het sy skoon vergeet van die foon in haar sak. “Daai een van my het gehardloop en in die swembad gespring. Sy het net so onder die water verdwyn.”

Aletta het opgespring en met klere en al, en met haar selfoon in haar sak, in die water gespring. “Lize-Marie sê sy het Tinker Bell in die water gesien! Dit was nie vyf minute nie, toe gaan sy weer aan met die swemlessie. Ek het net heeltyd gedink dat ek amper my ander kind ook verloor het.”

Nat klere en al het sy Lize-Marie teruggevat na haar skool. “Leon het daar aangery gekom en gesê die Kokkedoor-mense soek na my. Ek het daai selfoon uit my sak gehaal en vir Leon gesê sy kind het amper verdrink.”

Sy het die vervaardiger van Kokkedoor, Paul Venter, van Leon se foon af teruggebel. “Hy het gesê ek is ’n finalis. Ek het net daar op die gras op my knieë neergeval. Ek kon dit nie glo nie.”

Haar trane was terug en Leon het saamgehuil oor alles wat gebeur het. “Dit het letterlik my lewe soos handomkeer verander.”

Op die plaas by Prins Albert, waar die reeks verfilm is, het sy gaandeweg begin beter voel. “Ek het soveel pret gehad. Dit was so goed vir my huwelik en my kind dat ek daar was. My huis het eindelik weer lewe gekry en ek het weer leer lag. Ek is trots dat ek uit my hartseer kon opstaan.”

Sy het baie planne vir die toekoms. Aletta wil eendag ’n ondersteuningsplatform op Worcester begin vir ouers wat deur soortgelyke trauma gaan. “Ek het nog nie al die ervaring wat ek nodig het om dit te doen nie, maar ek doen my navorsing.”

Daar is ook reeds twee motiveringspraatjies in Oktober in die pyplyn. “Dis my missie om mense bewus te maak van al die babas wat daagliks sterf en die trauma wat mense deurmaak as gevolg daarvan. As ek nie die keuse gemaak het om op te staan nie . . . Wie weet, dalk was ek in groendakkies!” sê Aletta en glimlag.

Dan weer ernstig: “Ek wil vroue bystaan en vir hulle sê dit is moontlik om ná so ’n groot hartseer daaruit te kom. Jy kan weer opstaan uit die sak en as. Jy kan nie oor jou kind se dood kom nie, maar dit raak beter. Moenie moed verloor vir jou huwelik en jou liefde vir dinge nie.”

Sy het elke dag dagboek gehou oor haar hartseer en haar Kokkedoor-ervaring en dit het sy nou vasgevang op haar blog, Geloof,Hoop,Liefde,Kos. “Ek wil baie graag sukses behaal met my blog en daardeur my liefde vir kos vir die mense wys. Dit was my liefde vir kos wat my my lewenslus teruggegee het.”

Haar dokter sê steeds sy kan nie weer kinders kry nie. “Maar ek bid weer vir ’n wonderwerkie.” En een van die dae vier Lize-Marie haar verjaardag, nogal op dieselfde dag as oudpres. Nelson Mandela. “Lize-Marie vul my aan. In haar oë is ek ’n heldin en in my oë is my ma ’n heldin. Elke dag sê ek dankie dat die Here my met haar geseën het. Sy is my engeltjie en sy is pragtig.”

-    Loren Pienaar

Kokkedoor word 20:00, Donderdae, op kykNET uitgesaai.