Sy vertel ons meer oor wat skeefgeloop het – en hoe diep kykers se kommentaar oor haar op sosiale media regtig gesny het.

Jou pad op Kokkedoor is verby. Het jy voor die reeks gedink jy sal vroeër gly of langer bly?

Ek het die eerste dag al geweet die kompetisie gaan straf wees – en kyk, dit was! Daar was nie een oomblik waar ek agteroorgesit en gedink het ek is veilig nie. Ek sou natuurlik graag langer wou bly, maar ’n mens se tyd kom en jy is dankbaar dat jy dit so lank kon meemaak. Elke oomblik van Kokkedoor was vir my ongelooflik kosbaar.

Vertel ons van die uitdaging en wat jy dink skeefgeloop het.

Die vrugtefees-uitdaging het vir seker vir my makliker geklink as wat dit werklik was. Ek dink ek en Arthur het daardie dag baie elemente gehad om klaar te maak; ons wou graag meer doen sodat ons juis kon bly. Die tyd het ons effe gevang, hoewel ons gedink het ons is oukei. Ek dink ons idees was wonderlik, maar die uitvoer daarvan was daai dag net ’n bietjie moeilik vir ons: Die roomys moes stol, die appeltert moes lank bank, ensovoorts, so ek dink ons moes ons tyd beter benut. Dit was beslis nie enigeen se skuld nie.

Stem jy saam met Nic en Hetta (die beoordelaars) se kritiek?

Hul kommentaar was 100 persent korrek! Ons kwarteltjie was effe rou en ons roomys se struktuur was nie goed nie; so ook ons appeltert se kors wat langer in die oond moes wees.

Arthur was ’n baie stil spanmaat. Was dit tot jul voordeel of nadeel?

Ek en Arthur is mekaar se teenpool, maar ons deel ’n passie vir kos. Arthur is dalk stil en lyk asof hy terugstaan, maar sy kennis van kos is regtig fantasties! Ek het tydens die kompetisie gedink dit mag ons dalk indoen, maar ons kon steeds ons ding doen. Dit was ’n ander ondervinding toe ek met Leroux en Marius kook, maar die ondervinding met Arthur was glad nie sleg nie.

Kykers het omtrent op sosiale media ingeklim en jou allerhande lelike sêgoed toegesnou. Lees jy die kommentaar? Hoe laat dit jou voel?

Sjoe! Hulle het omtrent ’n paar nare goed kwytgeraak. Ek is ook maar net mens, so ek lees dit natuurlik. Dit het my aanvanklik vreeslik ontstel, want ek voel kykers ken my nie en som my binne ’n uur op. Ek het baie van myself geleer op Kokkedoor, en dit was so ’n positiewe tydperk in my lewe; ek kyk anders na myself. Ek is steeds net so passievol en perfeksionisties – dis in my bloed en ek vra nie verskoning daarvoor nie – maar ek het besef die lewe is te kort en ’n mens moet elke liewe dag meer geniet. Ek het na myself (op TV) gekyk en gedink: Genade! Jy kom kwaai voor! Nou werk ek daaraan, want ek het eintlik die sagste hart; al my mede-Kokkedore ken my so.

Gebak is jou spesialiteit, maar jy en Leroux het redelik kleigetrap in die gebak-episode. Kon jy darem vir jouself lag toe jy dit op TV kyk, of het jy ’n traan gepink?

Ek en Leroux het albei gelag én ’n traan gepink! As koekbak-stres jou pak, kan jy nie anders as om ’n traan weg te vee nie, maar ek kan beslis vir myself lag in die kombuis – dis tog waar ek my lewe deurbring. Leroux was werklikwaar wonderlik op daai dag; wat ’n ondersteunende spanmaat! Ek het baie respek vir hom en sy pragtige familie – en ons gaan nog baie sjiffonkoeke saam bak!

Jy en twee van jou mede-Kokkedore, Johnny en Marius, pak ’n opwindende nuwe projek aan. Vertel ons daarvan.

Ons het ’n interaktiewe kosdemonstrasie geloods met die naam Brooches, Bangles en ’n Blond. Ons bied insiggewende aande vol pret, wonderlike kos, wyn en lekker kuiers in die Kaap aan. Die res van die land moet ons dophou, want ons toer een van die dae die land plat. Ons het sulke goeie vriende geraak dat saam werk net reg klink en reg is. Ek het so baie liefde vir my Kokkedoor-pelle; hulle weet presies waar hulle in my hart lê.

Hoe kan jou aanhangers met jou kontak behou?

Op Facebook by Alet van der Westhuizen Kokkedoor 2014 of Brooches, Bangles en ’n Blond. My webtuiste is ook binnekort op die been.

- Christiaan Boonzaier