. Dié kookkompetisie het kykers nostalgies gemaak oor hartskos, aangebied met ’n nuwe kinkel.

Die wenners, Tiaan Langenegger van Stellenbosch en Mynhardt Joubert van Malmesbury, word beslis deur die meeste deelnemers as “waardige wenners” beskou.

Tiaan vertel dat hy niemand anders as Mynhardt saam met hom in sy span sou wou hê nie en dat hy 19 “baie goeie vriende” gemaak het.

Die geliefde tannie Poppie gaan selfs so ver om Tiaan as die “Jamie Oliver van Suid-Afrika” te doop. “Hy en Mynhardt was van die begin af absoluut die wenspan.”

Trudie Niehaus stem saam hulle moes gewen het. “Hulle het baie goeie tegnieke en hulle kon dit so goed regkry om die ou resepte met ’n nuwe kinkel te maak.”

Verder wil sy nie uitpraat oor wat agter die skerms gebeur het nie. “Ek sal met my gat in die tronk sit as ek dit moet doen,” roep sy tong in die kies uit.

Sy verklap dat daar wel ’n paar onaangename “verrassings” tydens die privaat dagboeksessies gesê is. “Dan vind jy uit mense het agter jou rug geskinder,” sê sy hartseer oor wat sy as “valsheid” van sommige deelnemers afmaak.

Sy verwys na haarself as “vol drama en ’n nurse” en sê die program het soveel uiteenlopende persoonlikhede gehad. Soms moes ’n mens net ’n bietjie dieper delf om die mens te leer ken.

Dis juis dié uiteenlopende persoonlikhede wat vir ’n paar katterige oomblikke in die reeks gesorg het.

Die hitte het veral in die kombuis tussen Therese de Vries en Rendil Pietersen gestyg. Kykers het gevoel dat Therese Rendil “ongeskik” behandel.

“Kyk ek nou terug voel ek baie sleg oor die hele situasie. Ek besef nou ek het oorreageer,” sê Therese oor die voorval waar sy uit Rendil se span gegaan het.

Maar Rendil beskou haar steeds “as my grootste vyand, want sy het my op TV verneder”.

’n Ander deelnemer wat ook nie skroom om ’n wag voor haar mond te plaas nie, is Magda Johnstone van Bloemfontein. Volgens haar was daar twee groepe: Diegene met ’n sterk, uitgesproke persoonlikheid en dan die stiller, meer teruggetrokke deelnemers.

Sy meen dis dié soort persoonlikhede wat verskil wat dalk spanning kon veroorsaak het.

“Die Here het vir ons elkeen ’n geaardheid gegee; daarom is niemand reg of verkeerd nie. Maar daar was soms ’n paar deelnemers wat ek met ’n pan wou doodslaan,” lag sy spottend.

Suzaan Keyter, die woordvoerder van Kokkedoor, vertel dat die program ongelooflike baie kykers gelok het. “Ek dink die program het iets aan die Suid-Afrikaanse kultuur aangeraak. Die idee van onthou het die kykers se hartsnare gekielie.”

Sy meen die program het ’n resep beet wat werk omdat kos wat ons almal ken, weer sexy gemaak is. “Ouma se wenresepte is weer afgestof en met ’n kinkel aangebied. Almal ken dié resepte en wat Kokkedoor gedoen het is om ’n sleutel oop te maak tot iets magic.”

Sy noem verder dat daar selfs aanhangers was wat hul eie Kokkedoor-eetgroepies gevorm het en Donderdagaande bymekaargekom het om saam te kook. “Hulle noem hulle die Donderdag-Kokkedore.”

Keyter sê inskrywings vir die tweede reeks gaan ietwat verskil van die eerste s’n, maar sy kan nog nie verklap presies hoe nie.

- Amber Kriel