KLIK HIER vir foto's van die finale episode van Kokkedoor

Dertien weke lank het deelnemers dit in kykNET se bobaas-kookprogram, Kokkedoor, uitgespook om R250 000 en ’n kookboekkontrak te wen, maar oor die heel laaste hekkie kon Ida Klopper (35) van Bloemfontein en Theresa de Vries (54) van Brandvlei net nie spring nie.

Tydens gisteraand se finaal van 90 minute, het Tiaan Langenegger en Mynhardt Joubert naelskraap ’n oorwinning oor die laaste twee vroue in die kompetisie behaal.

Huisgenoot het met die naaswenners gesels oor die oomblik dat hulle in die stof gebyt het, wat hulle by mekaar oor kook geleer het en watter raad hulle vir enigiemand het wat dit oorweeg om aan die tweede seisoen van Kokkedoor deel te neem.

Hoe voel julle ná gisteraand se epiese finale episode?

Ida: Ek voel verlig (lag). Dis nou verby. Voor elke episode was ek eintlik vreeslik op my senuwees, want ek het gewonder wat ek als aangevang het. Nou is die senuwees verby. Ja, ek is hartseer, maar nie omdat ek nie gewen nie – omdat die hele Kokkedoor-ondervinding nou rêrig klaar is.

Theresa: Ek is baie opgewonde, maar ook ’n bietjie hartseer. Ek het rêrig nie gedink ek sal so ver kom nie. Ek en Ida het wel tot die bitter einde probeer en ek is trots op ons albei.

Het julle ’n voorgevoel gehad Tiaan en Mynhardt sou met die louere wegstap? Wat was jul eerste gedagtes toe julle hoor julle het verloor?

Ida: Ek het geweet hulle gaan wen; daar was ’n voorgevoel. Ek was nie verbaas nie en baie bly vir hulle. Hulle is baie goed en baie kreatief. In my hart voel ek hulle verdien dit, want hulle dink goed uit waaraan ek nie sommer sou dink nie. Dis waaroor die kompetisie gegaan het: Jy moes onder baie druk, met die minste tyd, soveel moontlik nuwe kos maak. Ek is wel nou hartseerder as wat ek toe was (toe die reeks in Maart opgeneem is). Die 20 Kokkedore was en is nog baie goeie vriende en ons gun mekaar elkeen se sukses. Dit was wel ’n kompetisie, maar daar was meer kameraadskap onder ons; daarom gun ek Tiaan en Mynhardt dit.

Theresa: Ek het geweet; ’n mens ken mos jou grense. Hulle is waardige wenners; hulle het regdeur die kompetisie baie goeie kos voorgesit. Die beoordelaars het gesê dit was tot die einde baie gelyk, maar ek gun hulle dit regtig. Toe ons hoor ons het nie gewen nie, het ons lekker gehuil. Ek dink dit was meer omdat ons besef het alles is verby.

Hoekom dink jy het julle nie gewen nie?

Ida: Wat Tiaan en Mynhardt baie goed gedoen het, is dat hulle tradisionele kos totaal vernuwe het – hulle het basies kos gemaak wat nog nooit vantevore gemaak is nie. Daarenteen het ek en tannie Theresa goed gedoen wat ons geweet het werk en wat mense goed ken. Dis wat ons gepootjie het. Hulle (Tiaan en Mynhardt) het kos ’n heel nuwe baadjie en meer flair gegee as ons. Toe ek net hoor wat hulle als gemaak het, het ek gedink dis verskriklik oulik. Ek sou meer verbaas gewees het as ons gewen het.

Theresa: Die lewe werk mos net so: Daar is mense wat beter is as ander, nes die ou gesegde wat sê jy kry meester bo meester. Ek dink Ida het dit ook besef; ons het albei besef hulle is die span om te wen. Maar jong, het ons nou vir jou probeer om hulle te onttroon! Ons het nie gegaan vir die tweede plek nie, ons het gegaan vir die eerste plek. Ek is trots daarop dat ons nie tou opgegooi het nie.

Wat sou julle wou oordoen as julle kon?

Ida: Ons plan met die finale uitdaging was om dit makliker te maak en elke spanlid te vra om iets te maak wat ons geweet het hy of sy kon doen; ons wou die minimum vir hulle verduidelik. Maar op die ou end het 10 mense gelyk aan 12 disse gekook – dit sou ek anders doen: Ek sou elkeen spesifiek een ding gegee het om op te konsentreer. Dit beteken nie dinge sou anders uitdraai nie, want ons was nooit seker wat die beoordelaars wou hê nie.

Theresa: Ek sou definitief in vorige episodes ons souskluitjies en die eierfrikkadel wou oordoen. Ida het 18 eiers gebruik om vier frikkadelle te maak, g’n wonder die beoordelaars het gedink dis sleg nie (lag).

Julle is darem nie met leë hande huis toe nie . . .

Ida: Nee, ons het drie uitdagings gewen en daarmee saam drie pryse: Kaartjies op die Blou Trein vir ons albei en ’n metgesel, ’n trippie Waterberge toe (ook met metgeselle) en elkeen ’n Smeg-oond. Ek en tannie Theresa wil kyk of ons die uitstappies so kan reël dat ons saam gaan, maar vir eers moet ek genoeg verlof opbou, so dit sal seker eers volgende jaar wees.

Theresa: Ja, ons het drie oorwinnings saam behaal. Ons was van episode drie af saam en het van toe af gekook dat dit hop.

Wat het julle van kook by mekaar geleer?

Ida: Tannie Theresa is eintlik ’n lopende ensiklopedie; haar kennis is ongelooflik. Ek streef daarna om eendag soos sy te wees. Dis goed wat jy nie in resepteboeke of êrens kan oplees nie. Byvoorbeeld die geheime van haar skilferdeeg, wat sy met ons gedeel het. Dis verbysterend.

Theresa: Ek stel mos vreeslik belang in kos, so ek het verskriklik baie by haar geleer, veral hoe ’n mens ’n kombuis organiseer. Ek kan baie deurmekaar raak. Haar beplanning was vir my uitstekend. Nog iets was hoe om vars kruie te gebruik; dis mos ’n ding wat ek glad nie ken nie. Dan ook hoe om ’n mooi bord voor te sit en haar kennis van watter bestanddele jy bymekaar kan sit. Ons het genoeg die een by die ander geleer.

Die een ding wat julle gemeen het, is dat julle albei aanvanklik ander spanlede gehad het – Ida, jy met Trudie Niehaus, en tannie Theresa met Rendil Pieterse. Dit het maar baie swaar gegaan. Wat het in daai spanne nie gewerk nie wat seepglad in jul span verloop het?

Ida: Trudie is ’n dierbare mens; sy is regtig baie entertaining. Maar ek kon nie met haar idees rondgooi en bespreek soos met tannie Theresa nie, wat hierdie ongelooflike algemene kennis van kos het. Daar was nie tyd om in resepteboeke rond te krap vir idees nie; dis wat die frustrasievlakke met Trudie die hoogte laat inskiet het.

Theresa: Jong, dis mos nou ’n storie. Aan die begin voel-voel jy mos maar die besigheid. Ek het ’n vreeslike mededingende geaardheid. Toe ek sien ek gaan tweede kom, moes ek harder probeer. Ek en Rendil eintlik teen mekaar gewerk. Rendil is ’n uitstekende sjef; ek vat dit heeltemal op my. Ek was aan die begin dom en te vinnig. Maar toe ek en Ida bymekaarkom, was ons ewe kalm. Toe het ons die ding rustig deurgepraat en bepraat en toe het dit net goed gegaan.

Daar is sprake van ’n tweede seisoen van Kokkedoor. Het julle raad vir mense wat daaraan dink om in te skryf?

Ida: Begin nou al jou kennis verbreed en lees op oor tradisionele kos. Kyk ook wat jong, opkomende sjefs doen – nie net Suid-Afrikaners nie, dié in die buiteland ook. Die deelnemers in seisoen een het blindelings ingestap, maar wees voorbereid, want ek dink nie seisoen twee sal dieselfde wees as seisoen een nie. Skep solank ’n kosraamwerk waarop jy kan terugval. En natuurlik: kook, kook, kook!

Theresa: Ek glo weer die nuwe groep sal ’n voorsprong hê, want hulle weet wat om te verwag. Jy moet net sorg dat jy soveel kennis moontlik het. As jy ’n sjef is, kyk na boeke oor kos en hoe om ’n bord voor te sit; sorg dat jy jou kombinasies ken en wyd belese is.

Is enige van jul geregte in die Kokkedoor-kookboek?

Ida: Ek is nog nie heeltemal seker nie, maar die top-vier se oudisiestukke is almal daarin. Myne was pap-tertballetjies, ’n variasie van pap en wors. Kyk uit vir hom!

Theresa: Ja, die resepte waarmee ons gewen het sal moontlik wees – dis mos rêrige-êrige onthoukos: die lewer met suursous, melktert met skilferdeeg, brandy snaps, souttertjies Hertzoggies en natuurlik die kerrie-afval.

Enige toekomsplanne?

Ida: Ek het steeds planne vir ’n kookboek, maar nie nou dadelik nie. Ek wil daardeur weer ’n liefde vir kos kweek, want kos maak is eintlik baie maklik. Intussen gaan ek maar aan met my werk as ’n sjef by die Anta Boga-hotel in Bloemfontein. Ek is ook vreeslik lief vir koek bak en wil in my vrye tyd weer koeke vir troues aanmekaarslaan.

Theresa: Die groot nuus is dat ek en ’n vriendin, Hannelie van Niekerk, besig is om ’n kookboek te skryf, wat teen die einde van die jaar op die rakke sal wees. Dit gaan oor regte Boesma’landse kos wees, met stories daarby. Verder spot ek nou vreeslik, want ek lees van al die Kokkedore wat by feeste kook, maar ek is nog net deur die boereverenigings genooi – en sover tree ek net verniet op (lag). Ek het ’n plan om hier op die dorp ’n kookskool (en ek sê dit tussen aanhalingstekens) te begin; sommer so ’n plekkie waar ek meisies van al die ou resepte kan leer. Verder doen ek by die VLV-kosdemonstrasies, maar ek dink nie ek sal daarvan ryk word nie (lag).

– Christiaan Boonzaier

KLIK HIER vir foto's van die finale episode van Kokkedoor