Hy lyk omtrent na ’n nuwe mens; selfs kykers gaan dink die kykNET-werklikheidsreeks Kokkedoor het ’n nuwe beoordelaar.

Maar vir Nic van Wyk, een helfte van die trefferreeks se span beoordelaars, het klein veranderings in sy eetpatroon hom omtrent omgetower: Binne net vyf maande het hy 20 kg afgeskud.

“Toe ek myself op televisie in die eerste reeks van Kokkedoor sien, het ek besluit ’n man kan darem nie so lyk nie,” lag hy.

“Toe het ek maar net besluit om klein leefstylveranderings aan te bring.

“My groot voorliefde was brood en natuurlik die botter daarmee saam; so ek het dit ophou eet. En ek het my gedwing om net op naweke ’n bietjie wyn te drink,” sê hy.

Oefening het ook ’n groot rol in sy vernuwing gespeel.

“Ek’s gelukkig mal oor oefening. Ek ry baie bergfiets, veral daar op Stellenbosch en Somerset-Wes; so die dissipline rondom oefening het my ook gehelp om maerder en gesonder te word.”

Kykers kan Nic 20 kg ligter in die tweede reeks van Kokkedoor sien wanneer dit in April volgende jaar op kykNET uitgesaai word.

– Christiaan Boonzaier