Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het waarskuwings uitgereik en gesê die reën sal na verwagting Dinsdagaand begin uitsak. “Dit kan met donderstorms begin en met aan-en-af reënbuie deur die loop van Woensdag voortduur,” sê Thabisile Ncleko, ’n weervoorspeller van die Kaapse weerkantoor.

Volgens haar is die areas wat veral geraak sal word dorpe in die Overberg soos Swellendam en Hermanus, asook dorpe in die wynlande, soos Stellenbosch en Grabouw.

Daar is ook ’n goeie kans op buie al langs die Weskus tot in die Noord-Kaap. Dorpe so ver noord as Springbok kan reën verwag.

Vir die Moederstad word ’n maksimum van 26°C Dinsdag voorspel terwyl Woensdag aansienlik kouer gaan wees met ’n maksimum van 14°C . In Stellenbosch gaan die temperature Dinsdag tot 35°C klim terwyl dit Woensdag gaan afneem tot 25°C.

Temperature in die sentraal Suid-Kaap, insluitend Swellendam, gaan van 31°C Dinsdag tot 24°C Woensdag afneem.

Volgens die Weerkantoor word reën as "swaar" bestempel as meer as 50 mm reën binne 24 uur val. Vir Kaapstad en omliggende areas waarvoor die Weerkantoor waarskuwings uitgereik het, word tussen 10 en 20 mm reën verwag.

“Dis moeilik om te sê of dié reën enige verligting vir droogtegeteisterde areas sal bring,” sê Thabisile. “Vloede veroorsaak skade en dit help nie baie as dit net eenmalig is nie.” En na die onlangse vloede in Gauteng hoe lyk die weervooruitsigte daar oor die volgende paar dae? In Pretoria is daar Dinsdag ’n 30%-kans op reën en Woensdag 60%. In Johannesburg word daar vir beide Dinsdag en Woensdag ’n 60%-kans op reën voorspel. Reënweer word ook vir die grootste deel van die week oor wydverspreide dele van die Vrystaat verwag. In Bloemfontein sal daar Dinsdag en Woensdag ’n 60%-kans op reën wees. Só lyk die weervooruitsigte vir die res van die land: