Die twee mans van onderskeidelik 31 en 33 jaar oud het Sondag na die aangrensende Kambodja gereis, kort ná die gru-ontdekking van ’n baba se kop, minstens een voet en stukke vel toe DHL ’n roetine-ondersoek van pakkies by ’n depot in Bangkok doen. Van die dele was in pakkies wat as ’n “antieke treinstel” gemerk is. Dit is ontdek in houers vol formaldehied-oplossing, wat baie soortgelyk is aan dit wat by die Siriraj mediese museum in Bangkok gebruik word om lyke (waarvan ’n paar gedissekteer of vermink is) te preserveer. Die pakkies is gerig aan Las Vegas, Nevada, wat die Thaise polisie aangespoor het om die FBI te vra om die bestemming te ondersoek, het die adjunk nasionale polisiehoof, Ruangsak Jritake, aan joernaliste gesê.
'Die aanvanklike aanname is dat die liggaamsdele gesteel is.'

“Die aanvanklike aanname is dat die liggaamsdele gesteel is omdat die hospitaal gesê het ’n paar items het uit ’n uitstallingsvertrek verdwyn,” het hy bygevoeg.

Ruangsak het verder gesê daar was ’n linkervoet, skedel, gesig en hart van babas in die houer, asook stukke getatoeëerde vel.

Beeldmateriaal van veiligheidskameras wys blykbaar “vreemde mans” in die tyd waarin die dele vermis geraak het, het hy gesê.

Die plaaslike media het gesê die mans is Sondag ondervra, maar is vrygelaat nadat hulle daarop aangedring het hulle het die items by ’n straatmark gekoop.

Die polisie het die mans gevra om terug te keer “vir verdere ondersoek” oor die verbreking van doeane-wette, het Ruangsak bygevoeg.

Bron: Sapa-AFP/mjs