Terselfdertyd het die Suid-Afrikaanse weerdiens ’n brandgevaar-waarskuwing uitgereik vir sentrale gedeeltes van die Noord-Kaap en die Sentrale Karoo.

’n Koue front het vanaf Woensdagaand verby die suide van die land beweeg en verligting gebring ná die uiters hoë temperature van die afgelope tyd. Goeie nuus vir die Suid-Kaap waar die kans op reën vandag op 60 persent gereken word.

Die Wes- en Oos-Kaap se temperature sal na verwagting aansienlik daal en onder 20 grade bly. Reënbuie en selfs donderstorms word ook oor die gebied voorspel, veral aan die kuslyn. Inwoners kan ’n koue en nat naweek verwag.
Oor die Drakensberg-gebied word motreën vir Saterdag voorspel, met ’n skraal kans op moontlike kapokneerslae.

“Dit wil lyk of daar moontlik sneeu vir hierdie gebied voorspel kan word, maar die kans is baie skraal,” het Bransby Bulo, voorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, aan Huisgenoot gesê.

Hy sê dat die Oos-Kaap en dele van KwaZulu-Natal ook oor die naweek matige reënval kan verwag.

Die oostelike gedeelte van KwaZulu-Natal mag warm en vogtige weer ervaar wat tot "ongemaklike" toestande kan lei.

Volgens die SA Weerburo gaan die suidelike binnelandse gedeelte van die Suid-Kaap Donderdag steeds deur ’n hittegolf geteister word.

Teen Saterdag kan dele in die binneland, wat Gauteng en Noordwes insluit, ook ’n aansienlike daling in temperatuur verwag.

Die noordelike dele van die land, wat Mpumalanga en Limpopo insluit, kan die naweek bewolkte weer met ligte motreën verwag.

Limpopo mag wel vandag baie warm toestande ervaar.

Vrystaters kan ook uitsien na koeler temperature die naweek, met moontlike reën in die noordelike en oostelike dele van Vrystaat sowel as die suidelike dele van die Noordwes. Geïsoleerde donderduie word in wel Donderdag-namiddag in die Noordwes verwag.

“Die kans op reënval is maar skraal oor die Vrystaat, net ’n dertig persent kans,” het Wayne Venter, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, bygevoeg.

Die voorspellers het albei gesê dat Sondag die koelste dag van die week sal wees en dat stelselmatig koeler weer daarna verwag kan word.