Al sê sy vir die koningin van Engeland ouma, en al vloei die blouste bloed deur haar are, is Zara Phillips geen prinses nie.

En toe sy kort ná haar neef William aankondig sy is ook verloof, was dit ook sonder die prag en praal van ’n koninklike gedoente.

Prinses Anne se dogter en haar rugbyspeler-kêrel het sommer in die tuin van hul relatief nederige huis in Gloucestershire vir die kameras poseer.

En daar was geen teken dat ’n grimeerkunstenaar of stileerder enigiets met die fotosessie te doen gehad het nie – heel anders as met prins William en Kate Middleton se amptelike verlowingsfoto’s (Liefde is . . . ’n prentjie, 6 Januarie).

Zara en Mike Tindall was in jeans, stewels en dik baadjies toegewoel om in die sneeu warm te bly en haar blonde lokke was styf onder ’n pet ingedruk.

Toe sy haar platinumring met ’n enkele diamant vir die kameras wys, het haar naels die meeste aandag getrek.

Dit lyk of sy in die tuin gevroetel het voor die foto’s geneem is en ’n manikuris kon dalk nuttig te pas gekom het, het party koninklike waarnemers katterig laat hoor.

Maar vriende en familie was nie verbaas oor die perdesportkampioen se onversordge hande of die onopgesmukte foto’s nie.

Die 29-jarige Zara is een van die mees beskeie lede van die koningsgesin, al is sy die koningin se oudste kleindogter en die 13de aanspraakmaker op die troon.

Sy sê graag vir mense: ‘‘Ek is nie ’n prinses nie.’’

Haar pa, kapt. Mark Phillips, kom uit die burgerstand en haar ma het koninklike titels vir Zara en haar broer, Peter, van die hand gewys. Sy wou hê haar kinders moet so normaal moontlik grootword.

Daarom was protokol minder belangrik toe Zara die jawoord gee vir Mike, ’n man wat al uit ’n bakkie vis en tjips verkoop het.

Maar op daardie eenvoudige verlowingsfoto’s in die tuin lyk die paartjie net so stralend gelukkig as prins William en Kate op hul glansryke foto’s.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot, 13 Januarie 2011.