Die beoordelaars het Louise Dudley van Stellenbosch huis toe gestuur.

Die tweede episode se uitdaging was oggendgebak vir die ontbyttafel. Daar is gekyk na hoe die baktrommel ingespan word om die gesin tafel toe te lok vir ontbyt, en ook wyer gekyk na ander klassieke eetgoed uit die bakwêreld – van vinnige meelmengsels tot suurdeeggebak; alles met ’n soetigheid.

Ons het met Louise gesels oor haar Koekedoor-ervaring

Hoe voel jy ná gisteraand se episode en wat het skeefgeloop?

Dit was so lekker op die stel, hoewel ek gou-gou kon sien dat ek nie ’n kat se kans gehad het om te wen nie, sou ek daarvan gehou het as ek ’n bietjie langer kon vasbyt.

Hoekom het jy vir Koekedoor ingeskryf?

Vir die pret.

Wat het jy geleer tydens jou deelname?

Dis makliker om kosmaakprogramme te kyk as om daaraan deel te neem!

Het Koekedoor jou lewe verander en wat hou die toekoms vir jou in?

Dit het nie my lewe verander nie, maar dit was ’n ongelooflike ervaring wat ek vir altyd sal onthou.

Watter beoordelaar is jou gunsteling?

Moeilik om te sê – ek het van almal gehou.

Wie dink jy is die deelnemer om mee rekening te hou?

Die drie M’e: Martjie, Mareli en Murray.

Watter kospersoonlikhede inspireer jou?

Die gunstelingkookboeke in my kombuis die afgelope jaar of twee is dié van Karen Dudley (geen verbintenis al deel ons ’n van) van The Kitchen in Woodstock. En natuurlik Errieda du Toit.

Gunstelingkoek of -tert en hoekom?

Ek is mal oor ’n gebakte kaaskoek en ek glo vas dat jy enige proteïen in ’n dieet met ’n beskaafde stukkie kaaskoek kan (of selfs behoort) te vervang.

Wat verkies jy, soet- of soutgebak?

Daar bestaan nie iets soos te soet nie – en dit geld vir kinders én eetgoed.

Koekedoor word Donderdae 20:30 op kykNET uitgesaai.