Die tyd om te bak is nou! Die tweede seisoen van die kykNET-werklikheidsreeks Koekedoor begin vanaand en aanhangers van die eerste seisoen kan uitsien na nog hoër, mooier en meer gewaagde baksels wat die 10 amateurkokke selfs verder buite hul gemaksone gaan dwing.

In die eerste aflewering ontmoet ons nie net die 10 nuwe deelnemers nie; daar is ook ’n rits bekendes uit alle oorde wat diep in kykers se hart gaan inkruip. En dalk net die kollig steel!

Die skoonheidsguru Hannon is een van die gaste. In dié episode, waarvan die tema “’n bordjie soet en ’n bordjie sout” is, deel die bekendes hul geliefkoosde kosherinnerings met kykers.

Lees ook: Ontmoet Koekedoor 2 se tien nuwe deelnemers

“My grootste gunsteling ter wêreld is my tannie Hennah se chedderkaaskors-souttert,” vertel Hannon. “Afgesien daarvan dat ek glad nie ’n kok is, nie het tannie Hennah my sommer al vroeg laat verstaan dat ek nooit dié souttert sal kan berei nie, want dis glo ’n kuns om die kors te maak.”

Hannon vertel dat soet- en soutbordjies nog altyd vir hom sinoniem was met spesiale geleenthede. “Die sout- en soethappies was altyd keurig uitgestal op skoenbokse (of wat ook al) van verskillende hoogtes wat met lap oor of foelie oorgetrek is.”

Maar wat was sy gunstelinghappie?

“Die stokkies ingeryg met kaas, uitjies en ’n Weense worsie ! Maar ook kerriefrikkadelle en gevulde eiers.

“Wat ek veral onthou, is die voorspelbaarheid van die geregte,” vertel hy. “Soos die manier waarop dit voorgesit word met die grondboontjies wat as vullers gesprinkel word tussen die see van geregte.”

Dit laat ’n mens wonder, is hierdie man wat jy altyd deur ’n ring kan trek vol fiemies wanneer hy na geleenthede genooi word waar soet- en soutbordjies voorgesit word?

“Ek vind dit vreemd as daar tydens geleenthede groot stukke koue hoender voorgesit word en jy elegant moet lyk terwyl jy soos ’n grotman verbete vasklou aan die been van die boudjie. Ek het ook al geleenthede bygewoon waar polonie gemeng met konfyt op Cream Crackers voorgesit is.”

Lees ook: Anneli van Rooyen verklap wat haar die meeste ‘ontstel’ wanneer sy geleenthede bywoon

Hy erken ook dat hy dikwels by sulke geleenthede sukkel om die eetgoed in een hand en die teekoppie of wynglas in die ander te balanseer; ook om eers klaar te kou wanneer aanhangers wil kom bladskud.

“Die geheim is om piepklein happies te skep wat jy op een slag in jou mond kan sit en sluk, want gaste kom gesels graag met jou terwyl jy eet, om nie eens te praat van foto’s neem nie!”

  • Koekedoor word elke Donderdagaand op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die 90 minute loods-uitsending begin vanaand om 20:00; die daaropvolgende episodes om 20:30.