Die noue ontkoming met die viertandvurk het gebeur toe konst. Mphosi Motete reageer op ’n klagte van huishoudelike geweld in Allanridge verlede week, het kapt. Stephen Thakeng, provinsiale woordvoerder, Maandag gesê.

Mphosi het afgekom op ’n 20-jarige man wat glo die deurraam en al die vensterrame van sy ouerhuis gebreek het in ’n geveg oor kos.

“Konst. Motete het sonder die verdagte se medewete besluit om agter hom in te beweeg. Dis toe dat die jong man hom begin aanval het. Sy koeëlvaste baadjie het hom gered.”

Die polisieman het op die vloer geval en die man met die gaffel het glo twee waarskuwingskote wat die beampte afgevuur het, geïgnoreer.

Toe hy nie terugtree nie, het Mphosi ’n skoot in die man se regterbobeen afgevuur. Hy het weggehardloop maar is later op ’n aanklag van poging tot moord in hegtenis geneem.

Lt. kol. Mhlolo Ngcotholozi, stasiekommissaris van Allanridge, het ’n beroep op beamptes gedoen om versigtig oor hul veiligheid te wees.

“Dis duidelik dat indien konstabel Motete nie gereed was nie, die aanvaller hom kon doodgemaak of ernstig beseer het.”

Die man verskyn Woensdag in die landdroshof in Odendaalsrus om vir borgtog aansoek te doen.

Bron: News24