Elke liewe koerant het uitgebrand.

Die grootste Afrikaanse dagblad in Namibië, Die Republikein, se verspreiding is vanoggend erg in die wiele gery toe die verspreidingsvoertuig ongeveer 02:00 teen 'n koedoe gebots, die pad verlaat en aan die brand geslaan het.

Die koerant het vroegoggend sy lesers op hul Facebook-blad ingelig dat groot dele van die Erongo-streek, wat groot dorpe soos Walvisbaai en Swakopmund insluit, nie vandag 'n koerant gaan ontvang nie.

"Die hele vrag koerante het uitgebrand," het hulle geskryf. Daar is ook 'n foto van die verkoolde afleweringsvoertuig geplaas.

Gelukkig is die bestuurder van die voertuig nie ernstig beseer nie, maar die welstand van die koedoe is nie gegee nie.

Getroue Republikein-lesers van Erongo is darem nie heeltemal in sak en as gelaat nie. Die koerant het laat hoor die dag se nuus en sleutelberigte kan steeds op hul Facebook-blad en webwerf gelees word.