Vyf jaar gelede het hy diep in die hart van miljoene mense oor die wêreld heen gekruip. Knut die ysbeer se ma het hom kort ná sy geboorte in 2006 in die Berlynse dieretuin verwerp, en skielik was almal verlief op die bondeltjie wit pels.

Kort voor lank was hy beroemd en spoedig was daar Knut-liedjies, Knut-boeke, selfs ’n Knut-fliek. Sy gesig pryk op ’n Duitse posseël en hy het selfs saam met die akteur Leonardo DiCaprio op die tydskrif Vanity Fair se voorblad verskyn.

Vyf jaar later treur die wêreld nou oor die dood van Knut op Saterdag 19 Maart.

Sowat 600 geskokte besoekers by die Duitse dieretuin het sy laaste oomblikke aanskou. Hy het glo ’n paar keer in die rondte gedraai voor hy in ’n waterpoel geval het in die skuiling wat hy met drie ander bere gedeel het, onder meer sy ma.

’n Nadoodse ondersoek het gedui op “beduidende veranderinge in die brein’’, sê die diere­tuin.

Ysbere kan in die natuur tot 20 jaar oud word en in aanhouding nog ouer.  Diereregteaktiviste was glad nie gediend daarmee dat Knut in ’n dieretuin grootgemaak word nie en gis nou dat sy dood dalk verhinder kon gewees het as hy destyds vrygelaat is.

Hy is op 5 Desember 2006 gebore; sy ma is die 20-jarige Tosca en sy pa die 13-jarige Lars. Hy was een van twee welpies, waarvan een vier dae later dood is. Klein Knut was ses weke lank in ’n broeikas voor Thomas Dörf­lein, ’n werker by die dieretuin, hom begin grootmaak het.

Kiek die ikoon in die Huisgenoot van 31 Maart 2011 met jou foon vir ’n musiek­video met die oulikste klein ysbeerwelpie – Knut, natuurlik!