Die Jonas Brothers het ontbind.

Die popgroep, wat in die laat 2000’s roem verwerf het, is drie weke nadat hulle hul Amerikaanse toer te midde van ’n “onenigheid in die groep” gekanselleer het amptelik uitmekaar. “Daar was ’n groot uitval oor die rigting waarin hul musiek beweeg,” het hul woordvoerder toe gesê.

Kevin (25), die oudste lid (wie se vrou, Danielle, hul eerste kind verwag), het die nuus bevestig. Nick (21) het aan die Amerikaanse tydskrif People gesê “dis moeilik om te sê dis vir altyd – ons sluit beslis ’n hoofstuk af.” Die besluit het glo gekom nadat Nick met sy broers vergader en vir hulle gesê het hy voel “vasgekeer”.

Die broers het ’n onstuimige paar weke agter die rug met gerugte dat Joe (24) ’n dwelmprobleem het; hy het nog nie daarop kommentaar gelewer nie.

Die groep het in 2006 beroemd geraak met hul debuutalbum It’s About Time. Hul laaste album, Lines, Vines and Trying Times, is in 2009 uitgereik en het op trefferlyste geboer. Hulle het daarna aangekondig dat hulle ’n blaaskans gaan vat om aan solo-projekte te werk. Die groep het verlede jaar herenig vir ’n eenmalige vertoning by die Radio City Music Hall en het twee liedjies, Pom Poms en First Time, uitgereik vir ’n moontlike nuwe album, maar dit lyk nie of dit nou meer uitgereik gaan word nie.