In Suid-Afrika is kodeïen algemeen beskikbaar in medikasie vir sowel kinders as volwassenes, maar in die VSA het pediaters ’n waarskuwing aan ouers uitgereik oor die metabolisering van kodeïen by kinders.

WebMD berig dat kinders op verskeie maniere op die middel kan reageer: hulle kan dit óf normaal verwerk, óf sukkel om dit te verwerk (ondermetabolisering) en dus nie die voordele van pynverligting ervaar nie, óf hulle kan die kodeïen ongewoon vinnig verwerk (oormetabolisering). Laasgenoemde kan lei tot ’n opbou van morfien in hul stelsel en dit kan vir party kinders skadelik of selfs dodelik wees; daarom het dokters in die VSA aanbeveel dat ouers eerder ander alternatiewe vir pynverligting en hoes gebruik.

In Suid-Afrika het die Gemeenskapsaptekersektor reeds bepaal dat mense nou ’n identiteitsdokument moet toon om kodeïen te kan koop, en dr. Johann Kruger, die president van die Aptekersvereniging van Suid-Afrika, sê die middel hou dieselfde gevare in vir kinders as volwassenes.

“Kodeïen het sy plek as medikasie – ’n mens kan nie ’n medikasie heeltemal skrap as gevolg van ’n paar uitsonderings nie, maar dit is waar dat mense verskillend reageer op die middel. Die eerste reël is dus: Moet nooit ’n kodeïen-bevattende middel neem vir enigiets anders as pyn nie en hou altyd by die voorgeskrewe dosis. As jy kan, neem selfs minder.”

Hy sê kinders is vatbaarder vir oordosering en afhanklikheid van die middel. Daarby werk kodeïen, wat in strope soos Benylin of Stopayne voorkom, op dieselfde manier in kinders as in volwassenes: Dit word in morfien omgesit. “Ouers moet baie versigtig wees om dit sommer net te gebruik om die kind te help slaap. Die middel is bedoel vir pynverligting en hoes; dit kan daarom ook die kind se asemhaling aantas.”

Ten opsigte van die ondermetabolisering en oormetabolisering van kodeïen by kinders, moet ouers bedag wees op hoe hul kind reageer en uiters verantwoordelik met die middel  omgaan. “As jy sien jou kind raak sommer aan die slaap van ’n lepeltjie stroop, bespreek dit onmiddellik met jou apteker of dokter.”

As jou kind weer die teenoorgestelde reaksie toon – steeds pyn ervaar ten spyte van ’n korrekte dosis – kan dit beteken hy ondermetaboliseer die middel. Jou dokter sal iets anders, soos parasetamol of ibuprofeen, kan aanbeveel afhangende van watter soort pyn behandel word.

Die korrekte dosis

Vir volwassenes is daar ’n beperking van 4 g kodeïen per maand per persoon. Dit word gebaseer op die gemiddelde volwassene se gewig: ongeveer 70 kg. Dit is oor hierdie regulasie dat mense hul ID-dokumente moet toon wanneer hulle kodeïen-bevattende medikasie koop; die reël geld ook vir kinders.

“Vir kinders ouer as dit sal jou dokter of apteker die korrekte dosis, sowel as die maksimum toelaatbare hoeveelheid per maand volgens die kind se gewig en ouderdom uitwerk. Dit word dan op die kind se ID-nommer of geboortedatum geregistreer. As jy onseker is oor die hoeveelhede, moenie bang wees om jou apteker te vra nie. Dis waarvoor hulle daar is; dit kos jou niks en sal verseker dat jou kind veilig is,” sê Johann.  Kinders onder twee jaar moet glad nie kodeïen-bevattende middels neem nie.

- Dalena Theron

Ekstra bronne: webmd.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.