Ons politiek gaan vandag (Woensdag) ’n skerp wending neem wanneer die DA en EFF albei sal sê wat hul posisies is oor koalisievorming in die metrorade van Tshwane (Pretoria), Johannesburg, Ekhuruleni (Oos-Rand) en Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth).

Mmusi Maimane sal om 11:00 en Julius Malema om 12:00 ’n nuuskonferensie in Johannesburg toespreek.

[caption id="attachment_134201" align="alignnone" width="600"]Fotosamestelling: Amptelike logo's van partye en Carien du Plessis (Twitter). Fotosamestelling: Amptelike logo's van partye en Carien du Plessis (Twitter).[/caption]

Verskeie berigte vandag – onder meer in die koerant Business Day en op die webtuiste Daily Maverick – sê die EFF het besluit om nie aan enige koalisies deel te neem nie. Die EFF se redes sluit glo in dat hulle nie ’n mandaat het om te regeer nie en dus nie “by die agterdeur wil inglip” nie.

Dit is ’n groot slag vir die DA – en die gevolge vir goeie bestuur van minstens drie metro’s verreikend:

? Nelson Mandelabaai behoort veilig te wees. Die DA sal heel waarskynlik ’n koalisie van minderheidspartye kan saamslaan om hom ’n meerderheid te gee sodat hy met relatiewe gesag kan regeer.

? Die DA is die meerderheidsparty in Pretoria en die ANC die meerderheidsparty in Johannesburg – nie een het egter ’n volstrekte meerderheid in die raad wat hom in staat gaan stel om ’n burgemeesterskomitee en burgemeester aan te wys nie.

? Die ANC sal Ekhuruleni met behulp van enkele stemme van oppoisisiepartye kan regeer.

Wat nou?

? In Pretoria en Johannesburg sal minderheidsregerings gevorm word. Dit beteken die party wat die meeste stemme het sal daarin slaag om ’n burgemeesterskomitee en burgemeester aan te wys.

? In so geval sal die DA in Pretoria en die ANC in Johannesburg aan bewind wees.

? Omdat geen party ’n meerderheid (50% +1 stem) het nie, gaan daar oor elke liewe ding gekibbel moet word, van die goedkeur van die begroting tot die stem oor nuwe sportvelde in townships.

? Indien die stryery en bakleiery so erg word dat metro's nie kan funksioneer nie, maak die Grondwet voorsiening daarvoor dat daardie rade ontbind en beheer deur die nasionale regering oorgeneem word voor nuwe verkiesings uitgeroep word.

Maar hoekom wil die EFF nie in koalisie gaan nie?

? Die EFF is ideologies baie ver van die DA verwyderd. Die partye is byvoorbeeld ligjare van mekaar verwyder oor kwessies soos grondhervorming en die nasionalisering van banke.

? Hoewel hierdie sake nie in die munisipale verkiesing ’n kwessie was nie, wil die EFF hê die DA moet op nasionale vlak toegewing daaroor maak voor hy bereid is om die DA op munisipale vlak te help.

? Hierdie eise was skynbaar vir die DA onaanvaarbaar.

? Die EFF onder Malema is sedert sy stigting baie koersvas, so windverwaaid of sinloos dit ook al mag voorkom. Grond en nasionalisering is sy rigtende ideologie. Hy weier om middelgrond oor dit te soek.

Ons moet dophou presies wat vandag gebeur – maar dis jammer dat dit voorkom of koalisies nie gaan vlot nie. Dit beteken onstuimigheid en bakleiery in die land se belangrikste en grootste stede.

En dis vir niemand goed nie.

? Pieter du Toit is Assistent-redakteur van Huisgenoot.