Die vierjarige mannetjie, wat net ’n geskeurde nael opgedoen het, is Vrydag naby Maryborough in Queensland deur ’n motor getref.

Die wildhospitaal van die Australia Zoo het gesê hy het aan die onderkant van die motor vasgeklou toe dit wegjaag. Die insittendes, ’n gesin, het nie geweet hulle het ’n ekstra passasier nie.

Toe hulle ná die rit op die snelweg in Gympie stilhou, het hulle die koala opgemerk en die hospitaal vir hulp gebel.

Die spoedgrens op die snelweg is 110 km/h.

Claude Lacasse, ’n veearts by Australia Zoo, sê dit is ’n wonderwerk dat die koala, Timberwolf (soos reddingswerkers hom gedoop het), in so ’n goeie toestand is.

“Dit is absoluut ongelooflik dat hy nie ernstig beseer is nie en oorleef het,” het Claude gesê.

“Dit is ’n merkwaardige verhaal; hy is ’n baie gelukkige koala.”

Timberwolf het pynstillers vir die geskeurde nael gekry en sterk aan in ’n boom by die dieretuin noord van Brisbane terwyl veeartse probeer vasstel waar hy aan die motor vasgeklou het sodat hulle hom daarheen kan terugneem.

Australia Zoo, wyle Steve Irwin se projek, behandel maandeliks sowat 70 koalas. Sowat 70 persent is slagoffers van motorongelukke of aanvalle deur troeteldiere.

Voor Britse setlaars in 1788 in Australië begin vestig het, was daar moontlik meer as 10 miljoen koalas, maar nou is daar sowat net 43 000 in die wild oor. Maar hulle leef hoog in bome, dus is dit moeilik om presiese getalle vas te stel.

- Sapa