Sy spanmaat, Bradley Richards (24), het tydens dieselfde voorval 70 persent brandwonde opgedoen. Bradley het op 9 Junie gesterf.

Ian is in die George-hospitaal opgeneem met 50 persent brandwonde, veral aan sy gesig en hande. Hy het Dinsdag sy eerste groot vel-oorplanting op sy regterhand gehad.

Volgens Odette Fry is daar ook aandag aan sy gesig gegee en sy ore uitsorteer. Maandag, 19 Junie, sal hy vir sy volgende operasie ingaan.

Intussen word hy fyn dopgehou vir enige infeksies wat mag voortspruit uit sy nagmerrie-kontak met die wegholveldbrand wat Knysna geteister het.

“Ons is almal helde. Daar is geen “ek” in span nie. Ons almal doen dit saam. My broers doen dit nog. Ek wens ek kon by hulle wees.”

Luidens berigte het Ian en Bradley probeer om die brand te ontwyk wat hulle omring het. Hulle het probeer weghardloop van die vlamme omdat hul voertuig geweier het om aan die gang te kom.

Ian het na bewering teruggedraai om Bradley te probeer red. Hy het brandwonde aan sy gesig, hande en bene opgedoen.

Alhoewel Ian die gesin se enigste broodwinner en pa van twee is, het hy as ’n vrywilliger sonder enige vergoeding die stryd teen die wegholbrand aangesê.

Intussen het die Plettenberg-suid vrywilliger-branbestrydersgroep bekend gemaak dat ’n gedenkdiens vir Brad Donderdag, 15 Junie, om 11:00 sal plaasvind.