Hy het Donderdag 70 % brandwonde opgedoen terwyl hy saam met ’n span brandbestryders alles in die stryd gewerp het om die vlammemuur onder beheer te probeer bring.

Sy stiefpa, Norman Doyle, het Donderdag aan News24 gesê dat Bradley onder verdowing was en geen pyn gevoel het nie.

Vrydagoggend het hy egter sy stryd verloor.

’n Tweede vrywilliger, Ian Barnard, verkeer ook in ’n ernstige toestand in die hospitaal. Hy het 50 % brandwonde opgedoen. Hy het derdegraadse brandwonde aan sy gesig opgedoen.  Volgens Firefighters South Africa moet Ian ook ’n operasie aan sy hande ondergaan.

Die twee is beseer toe die vlamme in die Harkerville-woud teen hulle gedraai het. Hul voertuig is ook tydens die voorval vernietig.

Odette Fry het hierdie boodskap op Facebook gedeel. Daarin noem sy dat Ian die enigste broodwinner van ’n gesin is.

Die Eden Lions Club beskryf die twee jongmanne so: “Hierdie ouens, saam met al die ander wat hulself in gevaar stel om ons te help, is niks minder as helde nie.

Volgens News24 is sowat 80 % van die vuur onder beheer, maar tot 4 000 mense is nog dakloos.

Bradley se afsterwe het die dodetal sover bekend tot vyf vanweë die brand laat styg.

Madré Johnston (33), haar man Tony (34) en seun, Michael (3) is dood aangetref op hul kleinhoewe in Elandskraal, tussen Sedgefield en Karatara.

Madré was agt maande swanger. Die gesin het op Michael se verjaardag gesterf.

Die geliefde Matrone-karakter van 7de Laan, Annelize van der Ryst, se neef het ook tydens die brand omgekom.

Hoe jy kan help?

Nie-bederfbare kos, water, beddegoed (komberse, kussings), toiletware, doeke en klerasie (skoene, warm klere), asook kos vir huisdiere kan by die volgende insamelpunte besorg word:

KNYSNA: Die Knysna-brandweerstasie, Waterfront-rylaan of Metelerkamps, Union-straat 3, oorkant die brandweerstasie. George: Creative Touch-kantore (2de straat no. 4, oorkant Preston’s se parkeerterrein).

MOSSELBAAI: Starlite Aviation-loods of Mosselbaai Aeroclub.

Bel EDEN SE RAMP-OPROEPSENRUM by 044-805-5071 as jy behulpsaam kan wees met verblyf, kos, water en klerasie.

OUDTSHOORN: By Oudtshoorn Courant se kantore, Deon Bosman se Karwas, Plaspac of Turnberry Boutique Hotel.

WES-KAAP: Die Burger stuur 'n vrag noodvoorraad na Knysna. Bydraes kan voor 17:00 na die Bloemhofgebou (Vierde vloer), Edwardstraat 112, Bellville geneem word.

SKENKINGS VIR VRYWILLIGERS (brandweer en nooddienste): Round Table Oudtshoorn gaan vanmiddag 14:00 met twee vragmotors, een vanaf Mosselbaai en vanaf Oudtshoorn om die goedere in George by die Eden-rampbestuur se afsetpunt in Mosselbaai by die Shell-vulstasie in Voorbaai.

Bykomende bronne: news24.com, heraldlive.com