'n Vrou wat skuldig bevind is van aanranding nadat sy haar man se testikels so hard gegryp het dat hy steke moes kry, se vonnis is in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria verminder, het die koerant The Star berig.

Gladys Chauke is aanvanklik gevangenisstraf van 12 maande of 'n R3 000 boete opgelê, maar regters Ronel Tolmay en Cynthia Pretorius het dit na drie maande tronkstraf of 'n boete van R1 000 verminder.

Die regters het bevind dat die landdros wat Chauke oorspronklik gevonnis het, dit as versagtende omstandighede moes oorweeg dat dit 'n passiemisdaad was.

"Die aanval self was nie van so 'n ernstige aard nie. Die straf is skokkend...", het Tolmay Dinsdag in haar bevinding gesê.

Die landdros sê Chauke verdien die vonnis omdat sy 'n "baie sensitiewe deel van haar man se anatomie aangeval het".

Die voorval het by haar man se minnares se huis plaasgevind.

Chauke (27) het na bewering haarself, die man en sy minnares in 'n kamer toegesluit.

Die man het haar glo aangeval waarna sy hom tussen sy bene gegryp het, met 'n houtlepel oor die kop geslaan en toe gebyt het.

Hy het toe deur 'n venster gespring en weggehardloop met "bloed wat uit sy testikels gekom het".

- Sapa