Die akoestiese weergawe van ’n album verleen dikwels ’n nuwe, verrykende dimensie aan bekende liedjies.

Omdat Klopjag uit ’n groot groep musikante bestaan – en elkeen bespeel boonop minstens twee verskillende musiekinstrumente – bied hierdie album ’n besonderse ervaring. Daarop is akoestiese weer-gawes van al hul ou gunstelinge.

Die hoogtepunte is 24 Uur en Dalk ’n Boerseun. Albei is van die groep se vroeëre liedjies, maar steeds hul bestes. ’n Wenk vir mense wat gewoonlik die CD-speler afskakel wanneer die laaste note van die laaste liedjie wegsterf: Moenie. Daarna kom ’n versteekte snit wat jou beslis sal verras.