In Cooking for an Allergy-Free Lifestyle deel Tammi Forman haar beproefde gesinsresepte vir allergiese mense. Hier is ’n heerlike resep vir ’n rogmeelpizza.

Rogmeelpizza met tamatie en basilieblare

Rogmeel is nou geredelik in groot supermarket beskikbaar. Omdat dit min gluten inhet, sal die deeg minder elasties as deeg van koringmeel word wanneer jy dit knie.

Lewer 2 middelslag-pizzas met dun korse

Bereiding: 15 min

Rystyd: 1-1½ uur

Baktyd: 20 min

Pizzabasis

  • 250 ml (1 k) warm water (nie kokend nie)
  • 15 ml (1 e) suiker
  • 1 sakkie (10 g) droë kitsgis
  • 1 pakkie (500 g) rogmeel
  • 5 ml sout
  • 60 ml (¼ k) ekstrasuiwer olyfolie

Bolaag (per pizza)

  • 1 sakkie (125 g) songedroogdetamatie-pesto
  • 250 ml (1 k) gerasperde mozzarella
  • 250 ml (1 k) kersietamaties,
  • gehalveer en gegeur met groenui-sprinkelsout
  • hand vol basilieblare, geskeur
  • olyfolie vir bo-oor bedruip

Pizzabasis

Meng die water en suiker in ’n groot bak en sprinkel die gis oor. Laat staan 5 minute.

Sif die meel en sout saam. Voeg dit 250 ml (1 k) op ’n slag by die gismengsel en meng met ’n houtlepel. Die deeg sal styf word. Knie dit dan met jou hande verder deur die deeg saam te druk (dit gaan nie juis elasties word nie). Sprinkel 15-30 ml (1-2 e) olyfolie oor as dit te styf is en knie weer liggies. Maak toe en laat rys ’n uur lank op ’n warm plek.

Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas twee bakplate in die oond.

Knie die deeg af as dit tot 1½ keer die oorspronklike volume uitgerys het en verdeel in twee. Plaas die een deel deeg op ’n vel bakpapier en plaas ’n vel waspapier bo-op. Druk dit met jou handpalm plat tot jy ’n groot reghoekige basis het. Rol dit met ’n koekroller platter. Verwyder die waspapier. Herhaal met die ander deel van die deeg.

Plaas die pizzabasisse (met bakpapier en al) op die warm bakplate.

Bolaag

Smeer die pesto oor, reg tot teen die kante. Bak 7 minute tot lekker uitgepof en tot dit net langs die kante begin verbruin. Haal uit die oond.

Sprinkel die kaas, die tamaties en ’n paar basilieblare oor. Bedruip met die olyfolie en bak 10 minute tot die basisse goed bruin en bros is.

k – koppie(s) e – eetlepel(s) t – teelepel(s)

- Carmen Niehaus