Algehele tevredenheid met die bedryf is egter aan die afneem.

Dit is die bevinding van die Suid-Afrikaanse Kliëntetevredenheidsindeks (SAkti), wat die norm vasstel van die vlakke van kliëntetevredenheid met verskeie produkte en dienste wat aan huishoudelike verbruikers in Suid-Afrika verkoop word.

In Sakti se jongste selfoonnetwerk-aanduiding is bevind Cell C, wat die derde grootste selfoonnetwerk in Suid-Afrika is met ongeveer 20 miljoen intekenare, het sy aanduiding van kliëntetevredenheid opgeskuif tot 72,9 uit 100.

Vodacom, die plaaslike bedryfsleier, het afgesak tot 76,7, terwyl MTN 75,6 behaal het en Telkom Mobile laaste geëindig het met ’n telling van 69,4.

Die algehele puntetelling van die nywerheid was vanjaar 75,4 uit 100, vergeleke met 76,7 verlede jaar.

Hoewel daar ’n dalende neiging is, beteken dit nog nie plaaslike kliënte is heeltemal ontevrede nie. “Dit is een van die enigste bedrywe wat ons gemeet het waarin al die diensverskaffers wat ons ondersoek het, aan hul kliënte se verwagtings voldoen het betreffende algehele gehalte. Hulle het aan individuele vereistes voldoen en daar het niks skeefgeloop met die verskaffer nie,” het prof. André Schreuder, stigter van Sakti, sowel as HUB van Consulta, gesê. Die ondersoek het ’n lukrake steekproef van 2 195 selfoonintekenare betrek en hulle het bevind dat Cell C se verhoging daarop neerkom dat hulle kliënte se probleme met 8 persent afgeneem het.

'Cell C het ’n aansienlike verbetering getoon.'

“Cell C het ’n aansienlike verbetering getoon in die waargenome gehalte van sy aanbieding, hoewel die handelsmerk steeds agterbly in die algehele telling van die bedryf. By MTN en Vodacom was daar geen verandering ten opsigte van die vorige uitslae nie,” het Schreuder gesê in verband met die vergelyking tussen Cell C en die twee hoofspelers.

In die oorsig is ook bevind ’n vyfde van die klagtes in die bedryf handel oor rekeningprobleme. En al word Cell C vereenselwig met waarde, dui die studie aan dat Vodacom sy status as die sterkste selfoonhandelsmerk in SA behou.

“Cell C word beskou as leier in die bedryf, terwyl Vodacom die duurste is, hoewel kliënte aandui dat Vodacom se produkte van die hoogste gehalte is. Dit dui duidelik op ’n voorkeur vir gehalte teen ’n redelike prys, pleks dat mense swak gehalte teen ’n lae prys aanvaar,” het Schreuder gesê.

Suid-Afrika se gemiddelde bedryfstelling van 75,4 vergelyk goed met wêreldneigings: diensverskaffers in Portugal kry 75, dié in Turkye en die Verenigde Koninkryk 74, Suid-Korea 73 en die VSA 72.

Bron: Fin24