’n Tweejarige Poolse seun het amper verkluim nadat hy die nag buite met net nagklere aan deurgebring het. Sy toestand verbeter, het sy dokter Woensdag gesê.

Mediese kenners het dit as ’n wonderwerk bestempel omdat die kleuter se liggaamstemperatuur tot 12 °C gedaal het toe hy Sondagaand uit sy ouma se huis gedwaal het.

“Ons is baie gelukkig met sy toestand. Daar is geen negatiewe simptome nie; hy tooe verbetering,” het Janusz Skalski, ’n dokter by die kinderhospitaal in Krakow, in die suide van Pole, aan verslaggewers gesê.

Die seun, wie se naam nie bekendgemaak is nie, het sy oë geknip en sy arms en bene beweeg, maar is steeds aan ’n ventilator gekoppel nadat hy uit ’n geïnduseerde koma bygebring is, het Janusz gesê. Terwyl sy organe ongedeerd is, is dit nog onduidelik of hy breinskade opgedoen het.

'Mediese kenners het dit as ’n wonderwerk bestempel omdat die kleuter se liggaamstemperatuur tot 12 °C gedaal het toe hy Sondagaand uit sy ouma se huis gedwaal het.'

“Ons sal die masjiene ontkoppel en hopelik die volgende dag met hom begin speel – dan sal ons dit as suksesvol kan bestempel,” het Janusz gesê, en het bygevoeg die seun is nou ’n “bietjie kwaad vir almal”.

Polisie op die dorpie Raclawice, noord van Krakow, het die kind bewusteloos op die grond langs ’n spruit gekry.

Sy ouma het gesê sy het nie besef die kind het uit die huis geglip nie.

Die hipotermiekennert Tomasz Darocha het aan die Poolse nuusagentskap PAP gesê tot dusvêr was die mees dramatiese geval van iemand wat van hipotermie herstel ’n Skandinawiese vrou wie se liggaamstemperatuur tot 13,7 °C gedaal het.