Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het die seuntjie (18 maande) geen teken van lewe getoon toe die paramedici by 'n huis in Middelburg, Mpumalanga, opgedaag het nie.
Nadat KPR tien minute lank toegepas is, het die pasiënt bygekom.

"Toe die paramedici by die toneel opdaag, was die GPF (gemeenskapspolisiëringsforum) en gesinslede besig om hom te probeer bybring. ER24 se paramedici het onmiddellik oorgeneem en voortgegaan met KPR (kardiopulmonêre resussitasie) en gevorderde lewensondersteunende ingryping aan hom toegedien,” het hy gesê.

"Nadat KPR tien minute lank toegepas is, het die pasiënt bygekom. Hy is onmiddellik gestabiliseer en na die Mid Med-hospitaal geneem vir dringende mediese behandeling. ”

Meiring kon nie onmiddellik sê hoe lank die kleuter onder die water was nie en ook nie vir hoe lank die gesin en die lede van die GPF gepoog het om hom by te bring voordat die paramedici opgedaag het nie.

Meer besonderhede rondom die voorval is ook nie bekend nie.

News24