Die aanval op Trenton Cornell-Duranleau (26), ’n haarkapper van Chicago, word deur bronne as baie “intens” beskou. Hy is op 27 Julie vanjaar in sy vriend, prof. Wyndham Lathem (42), se Grand Plaza-woonstel vermoor.

Sy lyk is ongeveer 12 uur na sy dood gevind na ’n anonieme oproep die woonstelblok se sekuriteitspersoneel oor ’n moontlike misdaad ingelig het. ’n Polisieman het gesê hy was wreedaardig vermoor en het bygevoeg dat hy vermink is.

Benewens meer as genoeg wonde om tot sy dood te lei, is Trent se keel ook byna afgesny.

Die moord het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur wat Trenton as ’n “gawe outjie wat met almal oor die weg gekom het" beskryf.

"Mense was lief vir hom en dit was maklik om met hom oor die weg te kom,” het ene Peggy Bosel gesê.

’n Uitgebreide soektog is van stapel gestuur om die moontlike verdagtes wat voet in die wind geslaan het, aan te keer.

Anthony Guglielmi, polisiewoordvoerder, het hom na Twitter gewend en die twee verdagtes aangemoedig “om die regte ding te doen”.

Nou is Lathem, ’n mikrobioloog, en Andrew Warren (56), ’n senior tesourie-assistent van Somerville-kollege verbonde aan die Oxford-universiteit, in aanhouding nadat hulle hulself onafhanklik op 5 Augustus sowat 3 200 km ver van Chicago aan die polisie oorgegee het. Lathem het hom aan die polisie in Oakland, Kalifornië oorgegee en Warren in San Francisco.

Die moord

Sondag het die hof in Illinois tydens hul borgaansoek gehoor hoe donker die twee se verbintenis eintlik was.

Warren, van Faringdon, Oxfordshire in Engeland, se familie het hom op 25 Julie as vermis aangemeld. Janice King, wat haarself as ’n goeie vriendin van Warren vir bykans die afgelope 20 jaar beskryf, het haar skok oor dié wending uitgespreek.

“Hy het niemand vertel hy gaan Amerika toe. Die eerste wat ek daarvan te hore gekom het, was toe sy suster my bel om uit te vind waar Andy (Warren) is.”

Hy het Engeland vermoedelik die dag vantevore verlaat.

Lathem het glo vir Warren se vliegtuigkaartjie van Engeland na Amerika betaal.

Die twee het mekaar in ’n kletskamer ontmoet maande voor die moord. Die twee se gesprekke het kort voor lank in ’n seksuele fantasie met ’n kinkel ontaard: eers moord, dan sou die twee selfood pleeg.

Lathem het na bewering die niksvermoedende Trent , wat luidens gerugte moontlik Lathem se kérel was, na sy woonstel gelok. Warren het daarna ’n teksboodskap van Latham ontvang om hom te laat weet dis tyd om Trent, wat in daardie stadium geslaap het, te vermoor.

In ’n stadium het hy saam met Lathem vir Trent aangeval, selfs sy mond toegedruk toe Trent om hulp probeer roep het.

Lathem en Warren is glo saam badkamer toe waar ’n nuwe mes uit die verpakking verwyder is. Maar Lathem wou na bewering hul fantasie nog verder voer - Warren moes die moord op video vaslê.

Warren het glo nie die grusame moord verfilm nie. In ’n stadium het hy saam met Lathem vir Trent aangeval, selfs sy mond toegedruk toe Trent om hulp probeer roep het.

Na afloop van die moord, het die twee gestort en hulself netjies gemaak. Hulle het ook die woonstel probeer aan die kant maak.

Die moordlustige twee het daarna met ’n gehuurde motor vertrek. Hulle het twee donasies in Trent se naam gemaak: byna R74 000 in Trent se naam aan ’n gesondheidsentrum en R13 160 aan die Geneefse openbare biblioteek in Illinois, ook in Trent se naam.

Dit sou ook van hierdie biblioteek wees dat Lathem die woonstelblok se sekureitspersoneel anoniem sou bel om die misdaad aan te meld.

Lathem het glo kort voor hy homself oorgegee het, in ’n video aan sy familie en vriende vertel van “die grootste fout” wat hy in sy lewe sou gemaak het.

Op 19 Augustus word die twee amptelik van moord aangekla.

Volgens Warren sou Trent nie hul enigste slagoffer wees nie. Hy het in die hof gesê hy is onseker of die volgende persoon op hul moordlys wel die volgende dag by Lathem se woonstel opgedaag het of nie.

Die hof kom weer op Dinsdag, 29 Augustus, byeen om 'n regter vir die twee se verhoor aan te wys.

Bronne: nbcnews.com, cnn.com, theguardian.com