Dié kleinding het vir haar ma ’n toesprakie afgesteek wat die hart laat vermurwe oor hoekom dit belangrik is om vriendelik met mekaar te wees. En Cherish Sherry van Surrey, Brits-Columbië het ’n video op Facebook van haar dogter, Tiana, se raad gedeel.

Nadat die sesjarige gesien het hoe haar ouers baklei oor ’n skoenrak wat geval het, het sy gaan sit en gesels met haar ma. Sherry het hul gesprek opgeneem en op Facebook gelaai.

Dit het vinnig versprei en is nou al meer as 13 miljoen keer gekyk en meer as 500 000 keer gedeel. En om te dink dit het als begin met ’n voorvalletjie in die motorhuis!

Terwyl Sherry die motorhuis binnegery het, het sy gehoor hoe Tiana skree: “Stop, Mamma!” Toe sy uit die kar klim, het sy gesien haar skoenrak het omgeval. Sy was ontsteld met Tiana se pa wat die rak gebreek het, selfs nadat hy aangebied het om haar te help om die skoene op te tel.

Dis toe dat Tiana ingetree het. Waar sy op die trap in haar pienk slaapklere sit, sê die kleinding sy wil net hê almal moet glimlag. “Ek doen my bes . . ek wil hê jy, Mamma, en my pa, en almal moet vriende wees. Ek wil hê almal moet glimlag. Nie kwaad wees nie. Ek dink jy kan dit doen.”

Sherry het in haar inskrywing geskryf die woorde het haar verstom, maar dat sy voel haar dogter het haar iets waardevols geleer.

“Ma, is jy gereed om sy vriendin te wees?” vra Tiana heel ernstig aan die begin van die video.

Sherry sê sy is verstom oor haar dogter se insig. “Ek het nie geweet sy kan so praat nie! Sy’t my in trane gehad en nou voel ek skuldig,” skryf Sherry.

Aan die einde van die lessie, sê haar ma: “Dankie, Tiana,” en hulle druk en soen mekaar.

Watter goeie raad het jy al by jou kinders gekry? Stuur joune na web@huisgenoot.com.

Bronne: DailyMail, Today.