’n Privaat vliegtuig met ’n vrag goud van amper 1 miljoen Amerikaanse dollar, het Maandag in die suide van Zimbabwe neergestort.

James Danga, ’n amptenaar van die Burgerlike Lugvaartowerheid van Zimbabwe, het die voorval bevestig.

Die vliegtuig het in die Bubi-distrik van Matabeleland-Noord neergestort. Dit het sowat 22 kg goud vervoer.

Hoewel James die voorval bevestig het, wou hy nie nadere besonderhede verskaf nie en het "sekuriteitskwessies" as rede hiervoor aangevoer.

“Die privaat vliegtuig met twee insittendes het omstreeks tweeuur die middag by Kenilworth in die Bubi-distrik neergestort en die twee mense het ligte beserings opgedoen. Die vliegtuig het 22 kg goud vervoer,” sê James.

Die identiteit van die twee mense moet nog vasgestel word, het hy gesê en bygevoeg dat nadere besonderhede later beskikbaargestel sal word.

“Die privaat vliegtuig behoort glo aan Central Air Traffic Services en dit het Maandagmiddag neergestort.”

Die senior assistent-polisiekommissaris Charity Charamba kon nie vir kommentaar bereik word nie.

News24 kon nie vasstel vanwaar die vliegtuig kom en wat sy beplande bestemming was nie.

Zimbabwe het groot goudneerslae, hoewel sommige kritici al beweer het die land se hulpbronne word "wederregtelik uitgevoer".

Walter Chidhakwa, minister van mynwes, was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Bron: News24