Anna-Marie en Rudene wou ’n rustige watergeboorte gehad het, en dit was presies wat hulle gekry het – dit en ’n volmaakte dogtertjie, Ruana Cassidy, van 2,76 kg.

“Die watergeboorte was ’n ongelooflike en emosiebelaaide ervaring vir albei van ons. Ons sal dit altyd koester. Dit het alles baie goed verloop en het baie vinniger gegaan as wat ons verwag het. Ons het voorberei vir ’n maraton-geboorte van ±16 uur en het baie energiedrankies en eetgoed gekry. Aan die einde van die dag was ek net ’n bietjie langer as ses uur in kraam. Ons het amper ’n huisbevalling gehad.

“Toe my kontraksies so twee tot drie minute uitmekaar was, het ons besluit dit is tyd om na die Midwives-Exclusive-geboortehuis te gaan. Op pad kar toe het ek ’n kontraksie by ons agterdeur gekry en ’n drukkende gevoel ervaar. Ek het gedruk en vir Rudene gesê om te voel. Toe voel sy Ruana se kop.

“By die geboortehuis was alles baie rustig; daar was musiek wat op die agtergrond gespeel het en kerse wat aangesteek was. Dit het gehelp om my rustig te maak. Die vroedvrou, Heather, en Rudene het met elke kontraksie drukpunte op my toegepas om my met die pyn te help, aangesien ek nie pynmedikasie wou neem nie,” vertel Anna-Marie.

Toe Rudene destyds die lewe geskenk het aan hul seun, Aden Declan (2 jaar en 9 maande), het sy ’n keisersnee gehad. Dit was ’n heel ander ervaring.

“Ruana se geboorte was vir my ’n emosiebelaaide ervaring wat ek vir niks sal verruil nie. Met Aden se geboorte het hulle my ontneem van die emosionele ervaring as gevolg van die medikasie wat hulle ’n mens gee met ’n keisersnit. Ek weet ’n keisersnit is ’n goeie ding, maar net vir noodgevalle. Met Ruana se geboorte het ek ook gesien jy het miskien pyn tydens kraam, maar ná die bevalling is die herstel soveel makliker en ’n mens kan jou kind makliker hanteer. Met ’n keisersnit moet ’n mens die wond mooi versorg en die herstelproses duur langer,” sê Rudene.

Hoewel dit die eerste keer is dat Anna-Marie die lewe skenk, is dit nie die eerste keer dat sy ma word nie.

“Ek voel ek het reeds ma geword met Rudene se swangerskap en Aden se geboorte. Ek en Rudene lewe baie na aan mekaar, ons betrek mekaar by alles en ons werk saam as een. Met Aden se geboorte moes ek hom aan die bors sit, ek het hom heel eerste vasgehou, ek het sy doeke geruil en hom die eerste keer gebad. Ruana is net so ’n gemaklike baba soos wat Aden was. Al twee van hulle het vinnig in ’n goeie roetine gekom. My grootse uitdaging is my vol borste; ek het oorgenoeg melk om ’n hele kinderhuis te voed. Ruana kan nie byhou nie,” lag Anna-Marie.

Aden is mal oor sy nuwe sussie. “Hy was van dag een af so beskermend teenoor haar. Dit is vir ons baie spesiaal. Sussa is ook baie rustig wanneer sy hom hoor, want sy herken sy stem; hy het baie met haar gepraat toe sy nog in my maag was. Aden is baie betrokke met Ruana, hy help om haar doeke te ruil en haar aan te trek en help met badtyd ook. As ons by ’n supermark stop en die stootwaentjie uithaal, dan wil hy inklim en sy sussie vashou. Nou die dag toe loop ons in ’n winkelsentrum. ’n Ouerige dame stap toe na ons toe om na Ruana te kyk en sy wou aan haar raak. Toe sê Aden: ‘Nee los, dis my sussie,’ ” sê Anna-Marie.

“Die ervarings met ons twee kinders het ons verhouding versterk. Ek het nooit gedink ek sou so gou lief kan wees vir iemand nie. ’n Mens leer iemand ken en dit neem maande om daardie persoon lief te kry, maar sodra jy jou kind die eerste keer sien, is jy lief vir hom of haar. Dit is ongelooflik om te dink dat hulle van ’n klein selletjie gegroei het en nou hierdie mensie is wat afhanklik is van ons. Daar is net een Skepper van lewe en ek voel geëerd om ’n ma te wees. Ruana voltooi ons gesin,” sê Rudene.

- Suzanne Venter

Ruana