DIE vierjarige meisietjie klim lomp op haar aanneemma se skoot en steek haar kop skaam agter haar nek weg.

Sy is bang vir die vreemdelinge hier in hul huis in Bloemfontein, want ná haar breinoperasie verlede maand dink sy alle vreemde ooms is dokters wat haar gaan seermaak, verduidelik ma Martie Holtzhausen terwyl sy haar troos.

Klein Monica moes in haar kort lewetjie al baie verduur. Eers is sy wees gelaat toe albei haar ouers kort ná haar geboorte dood is. Toe moes sy ’n maand sonder die liefde van ouers in ’n plek van veiligheid deurbring. En vanjaar het die noodlot weer toegeslaan: Breinstamkanker is by haar gediagnoseer.

Eensklaps het haar nuwe ouers voor net een van twee keuses gestaan: om óf ’n gevaarlike operasie te laat doen met die risiko dat hul dogter van haar lewensfunksies kan verloor óf om toe te kyk hoe sy binne maande sou sterf.

Maar Monica het voorheen nog elke struikelblok te bowe gekom, en dié keer sou dit weer so wees. Die operasie was suksesvol.

‘‘Haar kort lewetjie was tot dusver vol wonderwerke,’’ sê haar pa, Hannes Holtzhausen (42), ’n Telkom-tegnikus. “Net dat sy vandag hier saam met ons op die bank sit, is klaar ’n groot wonder!

‘‘Ons is so dankbaar vir alles,’’ voeg hy by. Martie (39) plaas haar hand op syne en gee dit ’n ligte drukkie.

Monica loer later skugter vanuit haar wegkruipplek, en toe sy die kamera sien, fluister sy in haar ma se oor dat sy haar teddiebeer moet gaan haal as die oom foto’s neem.

‘‘Ja, natuurlik was dit vir ons ’n groot skok toe die dokters op 27 Mei ’n reuse kankergewas in haar brein ontdek. Hulle het gesê sy sal moontlik net tussen drie en ses maande leef as dit nie verwyder word nie,’’ vertel Martie.

Maar die operasie sou ’n waagstuk wees, met die kanker in die gedeelte van die brein wat die lewensfunksies beheer.

‘‘Sy sou iets soos haar sig of die gebruik van haar ledemate kon verloor as iets sou skeefloop,’’ verduidelik Hannes. ‘‘Of erger nog: dalk alles.’’

Die dokters het al die moontlike gevare presies uitgestippel, en dit was ’n vreesaanjaende prentjie. ‘‘Hulle het ons bang gepraat,’’ vertel Hannes.

Maar toe sê Martie vir een van die dokters: ‘‘Professor, dit is wat jý sê, maar dit is nie wat die Here sê nie. Ons gaan opereer.’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 26 Augustus 2010