Die twee se eersteling is op Saterdag 15 Junie in Los Angeles, Kalifornië, gebore. Aanvanklik was die werklikheidster en die rapper tjoepstil oor die naam, maar nou het ’n verpleegster by die Cedars-Sinai Mediese Sentrum, waar Kim gekraam het, blykbaar die kleinding se naam verklap.

Volgens die skinderwebtuiste MediaTakeOut.com pas Kaidence by die Kardashian-familie se tradisie om dogters name te gee wat met die letter K begin.

Die meisietjie se tweede naam is ’n huldeblyk aan die All of the Lights-rapper se ma, Donda West, wat in November 2007 oorlede is.

Kanye (36) was baie geheg aan sy ma en het selfs die liedjie Hey Mama vir haar geskryf. Dis op sy album Late Registration (2005).

Kim (32) was veronderstel om eers in middel Julie die lewe te skenk, maar het haar baba vyf weke vroeg gehad nadat sy Vrydagaand 14 Junie kraampyne gekry het.

Die ster se suster Khloé (28) het gesê dit gaan goed met die ma en baba.

Sy het op Twitter geskryf: “Ek kan nie eens begin om die wonderwerk te beskryf wat nou lid van ons familie is nie. Ma en baba is gesond en rus. Ons waardeer al die liefde.

“Nog inligting sal mettertyd bekend gemaak word. Dankie vir jul begrip. Ons het julle almal innig lief. Voel oorweldig deur liefde.”