Na ‘n dapper stryd wat mense oraloor aangegryp het, is die brawe jong kankerlyer Ruben Scharneck (6) Saterdagoggend oorlede.

Ruben het sedert 2014 aan hoërisiko-neuroblastoom gely. Huisgenoot het onlangs oor hom berig en oor sy ysere wil om skool toe te gaan.

Weens die siekte wat sy liggaam afgetakel het, het hy slegs ‘n enkele dag saam met sy graadeen-maats op die skoolbanke deurgebring, maar hy het met Huisgenoot se besoek vertel hoe hy daarna uitsien om terug te gaan skool toe. In sy enigste dag op skool het hy ‘n prentjie van hom en sy boetie, Rossouw, geteken. Elke oomblik in die klas in Laerskool Menlopark, kon hy tot in die fynste besonderheid onthou.

‘n Familievriendin wat Saterdagmiddag Ruben se ma, Marinda, se selfoon geantwoord het, het gesê Marina en haar man, André, waardeer elke oproep en boodskap. “Almal is orraait,” het sy gesê.

Verskeie boodskappe van medelye het Saterdag op Marinda se Facebookblad ingestroom. Madalea Scharneck het waarskynlik baie mense se gevoelens verwoord in haar boodskap: “Woorde het ons nie.

“Ons is bly, want jy’t niks meer pyn nie! Ons is dankbaar want ons het die voorreg gehad om jou te kon ontmoet en ons dank die Here vir so goeie mens! Ruben, ek het baie respek vir jou.

Ek sal jou nooit vergeet nie. Klein mensie met die mooiste hartjie.” Na ‘n boodskap van medelye aan Ruben se ouers en Rossouw, het sy afgesluit met: “Lekker bly by Jesus liefie!”