[caption id="attachment_165073" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Die 3-jarige seuntjie is Maandag oorlede nadat hy onder sy ma se motor beland het. Bernadette Small het na bewering onbewustelik oor haar seuntjie gery en het eers ’n ruk later omgedraai toe iemand haar bel en oor die tragedie inlig.

“Ou kleine AJ het sulke mooi maniertjies gehad, al was hy so besig,” sê Marietjie oor die seuntjie wat altyd mense met ’n handdruk gegroet het.

“En die tuitmondjie, wanneer hy jou soengroet. Ai, AJ se verlies is vir ons baie seer en swaar.”

Marietjie vertel aan Huisgenoot dat die Small-paartjie dit baie moeilik verwerk.

“Bernadette is gebroke,” vertel Marietjie en sê die hartseer Bernadette ontvang nou boonop oproepe van mense wat haar vra hoe ’n ma dit aan haar eie kind kan doen.

Marietjie beskryf die Small-paartjie as goeie lidmate en sê die voorval het nie net die gemeente nie, maar die hele dorp geruk.

Pieter, AJ se pa, het na die voorval mond-tot-mond-asemhaling op hom toegepas voordat hulle met AJ na ’n hospitaal op Kroonstad gejaag het. Die seuntjie is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

In Bernadette se Facebook-inskrywing vra sy haar blondekopseuntjie om vergifnis en verduidelik dat die voorval ’n ongeluk was.

“AJ, Mamma is so bitterlik jammer. Ek belowe ek het jou nie gesien nie. Jy hoef my nie te vergewe nie. Hel kan oor my breek en ek sal dit vat, want ek verdien dit. Ek mis jou so baie bitterlik. Ek kan nie genoeg jammer sê nie. Lief jou met my alles.”

AJ se roudiens is Vrydag (24 Maart) om 11 vm. in die Volle Evangelie-kerk op Koppies.