’n Organisasie in Lincolnshire in die VK het ’n geniale plan bedink om vroue wat ongemaklik of bedreig voel, te help om weg te kom kom sonder enige ophef – hulle hoef net vir Angela te vra.

“Werk jou afspraak nie lekker nie? Is die kêrel wat jy deur Tinder of POF (Plenty of Fish) ontmoet het, nie wat hy op sy profiel belowe het nie? Voel jy onveilig in die situasie? Voel alles ’n bietjie kriewelrig?” lui plakkate wat agter die deure van die hokkies by kroeë en bymekaarkomplekke oral in Lincolnshire aangebring is. “As jy by die kroeg gaan verneem na ‘Angela’, sal die kroegpersoneel weet jy het hulp nodig om uit jou situasie te kom en hulle sal vir jou ’n huurmotor bestel of jou op ’n diskrete manier help om buite te kom – sonder te veel ophef.”

’n Foto van die plakkaat van Lincolnshire Rape Crisis het virusafmetings aangeneem op Twitter nadat ’n jong vrou die foto op die sosiale netwerk gedeel het. Dit is sedertdien hertwiet en duisende mense het daarvan gehou. "Ek het dit in ’n toilet gesien en gedink dis belangrik en dit behoort oral aangebring word, nie net in Lincolnshire nie!” het die byskrif gelui.

Hayley Child, koördineerder van Substance Misuse and Sexual Violence & Abuse Strategy by die Graafskapsraad van Lincolnshire het aan The Independent gesê: “Die 'Ask for Angela'-plakkate is deel van ons wyer #NoMore-veldtog wat probeer om ’n kultuurverandering ten opsigte van seksuele geweld en mishandeling te bevorder, dienste in Lincolnshire te bevorder en slagoffers te bemagtig sodat hulle kan besluit of hulle voorvalle wil aanmeld of nie.

"Seksuele geweld en mishandeling is ’n nasionale aangeleentheid en al die rade het ’n verantwoordelikheid om die mishandeling hok te slaan. Dit was die eerste bewusmakingsveldtog van die Lincolnshire Community Safety Partnership rakende hierdie kwessie.

“Ons het werklik positiewe terugvoering gekry oor die werk wat deur die veldtog gedoen word, insluitend dankbetuigings van slagoffers van mishandeling.