Die seun, wat verkies om anoniem te bly, is verbonde aan ’n skool in Buckley in die deelstaat Washington.

Nadat hy die boodskappe gesien het, het hy vir sy ma ’n teksboodskap gestuur waarin hy sê: “Ek kan dit nie meer verduur nie en miskien moet ek dit tog net doen. Miskien is hulle reg. Ek’s jammer, ek’s jammer.”

Hy’t begin glo die boelies praat die waarheid.

Sy ma was vanselfsprekend baie ontsteld toe sy die boodskappe onder oë kry. Dit bevat kru taal en sketse, daar is talle spelfoute en dis bloedstollend wreed.

Dit sluit onder meer frases in soos “f*** yuo (sic)”, “you are a d*** en “piece of s***”, en daar word ook gesê die seun het nie genoeg durf om homself dood te maak nie.

Nog een sê bloot hy moet homself om die lewe bring en ’n ander een lui hy moet die wêreld ’n guns bewys en sterf.

In ’n plasing op Facebook vertel die ma die seun het haar in trane gebel. Hy word glo al 'n jaar geboelie.

In ’n onderhoud met die nuuskanaal KATU het die seun gesê hy’t begin glo die boelies praat die waarheid.

Amptenare van die White River-skooldistrik het hul kommer oor die boodskappe uitgespreek. Die superintendent van die distrik, Janel Keating-Hambly, het ’n ope brief aan ouers en die gemeenskap gestuur.

Wees ’n voorbeeld van hoe om ander met respek en deernis te behandel.

Daarin word onder meer gesê in 2017-2018 gaan 'n nuwe vak by die kurrikulum gevoeg word wat spesifiek ook op afknouery sal fokus.

Sy moedig ouers aan om gereeld met hul kinders te gesels en hul kinders se vriende beter te leer ken. 

“Wees ’n voorbeeld van hoe om ander met respek en deernis te behandel. Kinders leer deur grootmense se optrede. Hulle hou dop hoe hulle spanning en konflik hanteer en hoe hulle hul vriende, kollegas en families behandel."

Hoe weet jy of jou kind geboelie word?

Nie alle kinders wat geboelie word, praat daaroor nie. Dalk laat die boelies hulle hulpeloos voel of dalk is hulle te bang om iets te sê. 

Kyk wel uit vir hierdie waarskuwingstekens: 
1. Onverklaarblare beserings;
2. Verlore of beskadigde klere, boeke, elektroniese eiendom of juweliersware;
3. “Skoolsiek” en gereelde hoof- en maagpyn;
4. Verandering in eetgewoontes (kinders kom byvoorbeeld honger huis toe omdat hulle nie by die skool wil eet nie);
5. Swakker prestasie;
6. Gebrekkige belangstelling in vriende en skool;
7. Swakker selfbeeld;
8. Selfvernietigende gedragspatrone (kinders kan probeer wegloop, hulself beseer of oor selfdood praat).

Dis ook kommerwekkend dat boeliegedrag toeneem.


In die deelstaat Washington word "boelie" omskryf as "bedoelde elektroniese, geskrewe, verbale of fisieke dade wat ’n leerder fisiek skade berokken of ’n leerder se eiendom beskadig, met ’n leerder se onderrig inmeng, ’n intimiderende of dreigende onderrig-omgewing skep of die ordelike werking van die skool ernstig ontwrig".

Minstens een uit elke vier leerders in Amerika word op skool geboelie. Dis ook kommerwekkend dat boeliegedrag toeneem.

'n Geboelie kan ook enige plek voorkom; daar is nie ’n enkele faktor wat bepaal of iemand 'n slagoffer daarvan sal word nie.

Bronne: nypost.com, education.findlaw.com, stopbullying.