Die lyk van Jerry Goddard (15), ’n gr. 9-leerder is Dinsdagmiddag deur sy stiefpa en ’n buurseun gevind nadat hy hom vermoedelik opgehang het.

[caption id="attachment_164396" align="aligncenter" width="437"]jerry-goddard1 Skoolmaats kry berading nadat Jerry Goddard (15) vermoedelik sy eie lewe geneem het.   Foto: Facebook[/caption]

Willem du Buisson, hoof van die Hoërskool Sand du Plessis, het gesê hy het Dinsdag ’n predikant gereël om Woensdag met die skoliere te gesels. Vanoggend het Jerry se registerklas en hokkiespanmaats weer ’n beradingsessie gehad.

Jerry se ouma Aletta Lindeque het volgens berigte gesê haar kleinseun het Dinsdagmiddag oudergewoonte by haar gekuier terwyl sy ouers by die werk was. Hy was stiller en het nie soos altyd gelag en grappies gemaak nie. Toe sy hom daaroor vra, het hy gesê niks is fout nie.

Willem sê hy vertrou dit gaan ná die berading beter met die kinders. “Dit was ’n geweldige skok. Party kinders probeer sterk wees, ander dra hul emosies op die mou. Wonde genees nie oornag nie,” het hy gesê.

Hy het Jerry as ’n netjiese kind met baie mooi maniere beskryf. Jerry het vir die skool hokkie en krieket gespeel.

“Na my en die personeel se mening kan geen bewerings gemaak word oor hoekom hy dit moontlik gedoen het nie.”

[caption id="attachment_164395" align="aligncenter" width="297"]jerry-goddard2 Jerry was ’n aktiewe seun wat hokkie en krieket vir sy skool gespeel het.   Foto: Facebook[/caption]

Willem het gesê ná die tragiese voorval moet ’n mens vra wat gedoen kan word om so ’n tragedie te vermy. “Ouers moet oplet na hul kinders en maats moet oplet na vriende.”

Jerry word volgende Vrydag uit die Agapé-gemeente in Wilgehof, Bloemfontein, begrawe.

  • Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se 24-uur-noodnommer is 0800-567-567. ’n SMS kan ook gestuur word na 31393 om teruggeskakel te word.