Mariah Carey beweer ’n klasmaat het destyds op haar gespoeg toe sy ’n kind was omdat sy van gemengde afkoms is.

Die sangeres, wie se ma, Patricia, Iers is en oorlede pa, Alfred, van Afro-Amerikaanse en Venezolaanse afkoms was, het weens haar gemengde afkoms rassistiese ervarings beleef terwyl sy in Long Island, New York, grootgeword het. Sy glo dit het haar gehelp voorberei vir haar rol in die nuwe rolprent The Butler.

In verband met ’n toneel in die rolprent waar ’n wit vrou op ’n swart student spoeg, het sy tydens ’n perskonferensie aan Yahoo! Movies gesê: “Dit het met my gebeur. Ek weet dit sal mense skok en hulle sal dit nie wil glo of aanvaar nie, maar dit het. Dit was vir my omtrent die roerendste toneel in die rolprent omdat ek weet wat sy deurgemaak het – dit het ook in ’n bus gebeur. Dit was in ’n skoolbus, in die gesig en op dieselfde manier.”

Mariah, wat getroud is met die sanger Nick Cannon (32) en ’n tweejarige tweeling, Moroccan en Monroe, by hom het, het tevore tydens ’n onderhoud met haar medester Oprah Winfrey (59) vertel ’n onderwyser het eenkeer gesê sy het haar pa “die verkeerde kleur” gegee in ’n prentjie wat sy van haar gesin geteken het.

Sy het gesê: “Ek het gesê nee, dis sy regte kleur. Hulle het my laat voel dat daar iets fout is met my. Dit was ’n bisarre, vreemde ding.”