Johannesburg – Die skoolmeisie Klara Göttert se dood word tans as selfdood hanteer, het die Gautengse polisie Donderdag gesê.

“’n Dossier vir ’n geregtelike doodsondersoek is geopen. Ons wag nog om van die forensiese afdeling te hoor of daar enigiets onnatuurliks aan haar dood was,” het die adjudantoffisier Balan Muthan gesê.

Die 14-jarige leerder aan die Duitse Internasionale Skool in Johannesburg het Dinsdagaand by die Nortgate-inkopiesentrum na haar dood geval. Sy was nog in haar skooluniform geklee.

Haar ma, Liesl Göttert, het dit op ’n stadium bevraagteken of dit wel selfdood was. “Ons gaan vanmiddag polisie toe. Ons het bewyse wat kan toon dat sy nie haar eie lewe geneem het nie. Ek kan nie nou meer inligting daaroor gee nie,” het Liesl Woensdag aan Centurion Record gesê.

Balan sê die nadoodse ondersoek, wat die uitslae van toksikologie toetse insluit, kan nog ’n rukkie neem.

News24